O brandewyn, laat my NOOIT staan!

Suid-Afrika se brandewyn maak al vir baie jare wêreldwyd opslae. Die gesaghebbende IWSC (International Wine and Spirits Competition) en die ISC (International Spirits Challenge) wys al vir meer as twee dekades omtrent elke keer ’n Suid-Afrikaanse brandewyn as die algehele wenner aan – die wêreld se beste!

Brandewyn se Suid-Afrikaanse  storie het in 1672 op die skip, Pijl, in Tafelbaai begin toe die eerste “Suid-Afrikaanse” brandewyn aan boord gestook is. Daardie jare was dit glo tradisie dat die eerste matroos wat land gewaar nadat die berugte Kaap van Storms oorwin is, met ’n sopie brandewyn beloon is. Die assistent-kok aan boord van Pijl het glo daarin geslaag om 1 164 liter Kaapse wyn in 126 liter “heerlike brandewyn” te omskep.

Die woord brandewyn is afkomstig van die Hollandse woord “brandewijn” wat gebrande of gedistilleerde (gestookte) wyn beteken. Die Hollanders het distillasie gebruik om wyn aan boord van hul skepe te preserveer.

Brandewyn het ’n  gesogte drankie in die Kaap geword, en daar word vertel dat ’n vaatjie of twee saam met elke ossewa die Groot Trek aangepak het!

Hoewel die KWV en Van Ryn’s reeds wêreldwye lofbetuigings vir hul brandewyn ontvang het, is hulle nie die enigste produsente wat brandewyn maak wat spreek van sofistikasie en elegansie nie, drankies vir ’n ware heer en dame. Daar is ook Uitkyk, Boplaas, Mons Ruber, Grundheim, Upland en Laborie, om maar net ’n paar te noem.

En nes wyn kom brandewyn dikwels in die mees onverwagte plekke voor. Rade Meyer van Mons Ruber aan die voet van die bekende Rooi Heuwels naby De Rust in die Karoo vertel van die bedrywige brandewynstokery in hierdie dorre landstreek. “Voor 1900 was daar meer as 100 koperpotketels in die area. Agt daarvan was op Mons Ruber. Die aanvraag na brandewyn was so groot dat elke ketel hier 24 uur per dag deur vier stokers beman is!”

Op Boplaas aan die buitewyke van Calitzdorp in die Klein Karoo maak die Nel-familie al sedert die laat 1800s brandewyn. In 1880 is die eerste besending brandewyn per ossewa en trein na die Kaapstadse hawe vervoer en daarvandaan per skip na Engeland.

Na die opheffing van stokerslisensies in die vroeë 1920s was die potketel op Boplaas vir byna 70 jaar in onbruik. Carel Nel, die vyfde geslag op Boplaas, het die tradisie in 1989 hervat en 5 jaar later sy eerste potketelbrandewyn die lig laat sien.

Edmund Oettlé van Upland by Wellington is die enigste gesertifiseerde, organiese distilleerder in Suid-Afrika. “Ek het my eie potketel in 1998 gebou en gebruik dit elke jaar.”

Die produksie van brandewyn is ’n delikate en komplekse proses en Suid-Afrikaanse wetgewing vereis dat net die beste wyn gebruik word. Die basiswyn word twee keer in koperpotketels gedistilleer en dan vir minstens 3 jaar in eikehoutvate verouder.

In Suid-Afrika word hoofsaaklik chenin blanc en colombard gebruik vir die basiswyn. Die basiswyn moet van die hoogste gehalte wees. Die volgende stap in die proses is distillasie. Die basiswyn word word in koperpotketels gedistilleer en omskep in “lae wyn” (low wine) met ’n alkohol van sowat 30%. Die “lae wyn” word dan ’n tweede keer gedistilleer en verder gekonsentreer. Tydens hierdie proses word die eerste vog wat uit die potketel kom, “die kop” (the heads) genoem. Dit word weg gegooi aangesien dit bestanddele bevat wat sleg ruik.

Die tweede gedeelte word “die hart” (the heart) genoem. Dit is die “siel” van die brandewyn en die spiritus wat uiteindelik in die bottel beland en deur fynproewers geniet word. Dit het ’n alkoholinhoud van tot 70%. Die finale vog uit die ketel word “die stert” (the tails) genoem. Dit word ook weg gegooi.

“Die hart” word in eikehoutvate verouder vir minstens 3 jaar. Baie brandewyne word vir langer verouder, tot 30 jaar! Tydens die verouderingsproses verkry “die hart”, ‘n helder vloeistof, sy kenmerkende geelbruin kleur.

Dis nou die werk van die meesterdistilleerder met al sy kennis en ervaring om die finale versnyding te doen uit die verskillende vate. Hierdie versnit kan op sy eie gebottel en verkoop word of gebruik word as ’n komponent in versnit- en sogenaamde vintage-brandewyne.

Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing is daar 3 soorte brandewyn, naamlik

potketelbrandewyn wat bestaan uit brandwyn wat 100% in potketels gestook is en ’n alkoholinhoud van minstens 38% het,

vintage wat bestaan uit potketelbrandewyn wat versny is met verouderde wynspiritus en ook ’n minimum-alkoholinhoud van 38% het, en

versnyde brandewyn wat bestaan uit potketelbrandewyn wat met onverouderde wynspiritus gemeng is. Dit het ’n alkoholinhoud van minstens 43%.

Ons is die Kampioene 

Die International Wine & Spirit Competition (IWSC) se wêreldwye trofeewenners

  • 1981: KWV 10 Year Old
  • 1990: KWV 20 Year Old
  • 1991: KWV 10 Year Old
  • 1995: Sydney Back
  • 1999: Oude Molen VOV
  • 2000: Imoya VSOP
  • 2001: Oude Molen VOV
  • 2004: Van Ryn’s 12 Year Old
  • 2005: Van Ryn’s 12 Year Old
  • 2007: KWV 15 Year Old
  • 2008: Van Ryn’s 20 Year Old
  • 2009: Joseph Barry 10 Year Old
  • 2010: Laborie Alambic
  • 2011: Van Ryn’s 20 Year Old
  • 2012: Van Ryn’s 12 Year Old
  • 2014: KWV 12 Year Old
  • 2015: Van Ryn’s 12 Year Old
  • 2016: Van Ryn’s 12 Year Old
  • 2017: KWV 15 Year Old

 

Die International Spirits Challenge (ISC) se trofeewenners

  • 2014: Van Ryn’s 15 Year Old
  • 2015: KWV 20 Year Old
  • 2016: KWV 15 Year Old
  • 2017: Oude Meester 18 Year Old

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>