Nuy on the Hill: Lafenis vir vlees en gees!

Padkos! Ek kan nog goed onthou die mandjie gevul met lipleklekker frikkadelle, eiers en heerlike toebroodjies (kaas en tamatie, ham en tamatie, kaas en druiwekonfyt) en die verpligte fles stomende koffie waarmee ons toeka se dae douvoordag elke vakansie aangepak het. Soms was daar droëwors en lekker vetterige biltong by, en ’n seisoenale vrug of twee … wat nie juis veel aandag gekry het nie. Dit was ons brandstof vir die lang pad.

En dan kon ons nie wag vir daai eerste stop langs die pad, so ’n uur of twee nadat die son vir die eerste keer oor die horison geloer het en altyd op dieselfde plek waar drie reuse-bloekombome hul skadu oor ’n ronde, geverfde sementtafel en –bankies laat val het. Ma het dan die mandjie met genoegdoening op die tafeltjie oopgemaak, papierborde en bekers uitgedeel en die “manna uit die hemel” uitgedeel.

Binne of buite, Nuy on the Hill bied lafenis vir vlees en gees!

Die lang pad na ons eindbestemming was daarna vergete … vir ’n wyle, in elk geval!

Dit was natuurlik die dae voor vulstasies langs die pad wat dikwels meer aan inkopiesentrums herrinner met onpersoonlike eetplekke waar mens kan aansit of iets bestel vir wegneem en padstalletjies. Hoewel hierdie eetplekke iets bied om die hongerpyne te stil, is daar altyd iets wat ontbreek – lekker uitspan en ontspan!

Maar dinge het verander, en nie altyd ten goede nie. Vandag kan mens nie meer sorgeloos gaan stap soos 30/40/50 jaar gelede nie, of kommerloos gaan fietsry soos in toeka se dae nie. En om langs die pad te stop om daai mandjie padkos te verslind, is ook nie meer wys nie.

‘n Verwelkomende atmosfeer laat mens die kos en wyn sommer meer geniet.

Wanneer jy jou egter op die R62 tussen Worcester en Robertson bevind, sal jy ’n kuierplek vind waar jy nie net heerlike kos en puik wyn kan geniet met pragtige uitsigte nie, maar ’n oase vir uitspan en ontspan. Nuy on the Hill is geleë op die koppie aan die begin van die pad wat jou in die Nuy-vallei op vat. Soos gesê, hier wag nie net heerlike kos en wyn op jou nie, maar jy sal dit kan geniet met asemrowende uitsigte van die omliggende omgewing tot sover as die Hexrivierberge.

Proe eers ‘n bietjie aan Nuy se puik wyne voordat jy jou tafel soek.

Nuy on the Hill het in Desember 2015 sy deure oopgegooi en sommer gou gewild geword, nie net onder reisigers nie, maar ook onder die mense van die omgewing. Hout- en klip-elemente is hoofsaaklik gebruik om by die natuurlike omgewing aan te sluit.  Die effense elevasie van die lokaal bied nie net ’n panoramiese uitsig oor die vallei en sy wingerde nie, maar ook op die natuurlike fauna en flora in die tuin.

Lekker kos en wyn word net lekkerder met sulke uitsigte.

Die gebou sluit ’n wynproe-area in, asook ’n restaurant en deli, en die ruim stoep-area, omring deur oop grasperke, bied besoekers genoeg buitelug- en onderdakopsies om  die wye verskeidenheid restaurantgeregte – wat tapas, houtvuurgemaakte pizza, hamburgers en biefstuk insluit – in ’n rustige atmosfeer te geniet. Daar is selfs sogenaamde banting-disse!

Christo (links) en jors troelie met ‘n paar van die lekker kuier se “slagoffers”!

Vir die kleinspan is daar ’n klimraam met ’n glyplank, asook Giant Jenga om hulself mee te besig te hou.

Ons besoek in die middel van die week – op pad Hermanus toe vir ’n paar dae – is ekstra spesiaal gemaak toe Christo Pienaar, Nuy se Keldermeester/Bestuurder, en Nuy se bemarkingsbestuurder, AC Goodger, ons oor middagete “te woord” gestaan het. Net so terloops, die besoek

My keuse vir middagete (met die uieringe regs) was uit die boonste rakke.

aan Nuy on the Hill het my laat dink aan wat ’n gesoute reisiger eendag gesê het, naamlik dat die gelukkigste mens die een is wat die natuurskoon langs ’n ompad kan waardeer. Sien, ons ompad het ons van Jacobsbaai aan die Weskus na Hermanus geneem, en die “natuurskoon” – Nuy on the Hill – het dit dubbel en dwars die moeite werd gemaak!

Die kuiertjie het afgeskop met Nuy se heerlike, elegante en geurvolle potketelbrandewyn, net om die stof van die “ompad” mee af te spoel, en toe is daar oorgeskakel na vier van Nuy se puik witwyne, ’n 2020 Chenin Blanc, ’n 2020 Sauvignon Blanc, ’n 2017 Chardonnay en die 2018 Calcareo, Nuy se

Vroulief vat gewoonlik ‘n brakkiesakkie vir oorblywende pizza, maar nie hierdie keer nie!

houtverouderde chenin blanc. En daar is natuurlik wyn gepraat, van die jongste oes tot die uitwerking wat die inperking en die regering se ondeurdagte en sinnelose maatreëls op die bedryf gehad het en steeds het.

Toe was dit tyd vir iets te ete. Aangesien ons die aand in Hermanus ’n ete-afspraak met vriende gehad het, het ons op iets ligs besluit, ek op ’n hamburger, tjips en uieringe en vroulief op ’n pizza. Christo het ook ’n hamburger bestel, terwyl AC ons verlaat het om na kliënte om te sien. Christo en ek het daai Calcareo nader gesleep … en hy’t sy man deeglik gestaan teen die hamburgers. Jip, ’n stewige witte skrik nie sommer vir rooivleis nie!

Vroulief het op koffie en koek besluit vir nagereg (regs), maar Christo het vir my ’n baie spesiale “nagereg” saamgebring, een in ’n bottel. Barbieri Idro is ’n vatverouderde rooi muskadel wat jou binnensmonds laat kwyl en jou smaakkliere laat skree vir meer!

Die hemel … in ‘n bottel!

Nou-ja, alle goeie dinge kom aan’t einde en so ook ompaaie. Versadig en verkwik het ons die pad gevat, maar tradisionele padkos het nuwe betekenis gekry oppiekoppie. En dis nie net reisigers wat Nuy on the Hill ’n baie aangename pit stop vind nie, die plaaslike inwoners het ook besluit oppiekoppie is ’n heerlike plek vir uitspan en ontspan.

Net so terloops, die deli bied ’n wye verskeidenheid ingelegde, plaaslike en ander produkte, geurige moerkoffie, varsgebakte brode en spesialiteitsgebak aan. Ons is met genoeg proviand – gebottel en ongebottel – daar weg dat ons maklik nóg ’n paar ompaaie kon aandurf!

Vir die adrenalienverslaafdes is daar selfs ’n bergfietsroete en fietsryers is welkom om van die stortgeriewe en wasstasie langs die gebou gebruik te maak. Dis duidelik dat ’n besoek aan Nuy on the Hill meer as net uitspan en ontspan behels! Hier kan jy ook lekker kuier!

Nuy on the Hill is Maandae tot Vrydae van 09:00 – 17:00 en Saterdae en Sondae tussen 09:00 – 16:00 oop.

Vir meer inligting, besoek gerus http://www.nuywinery.co.za/ of kontak AC Goodger by 023 347 0272 of marketing@nuywinery.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>