Nuwe wynwyke vir terroir-wynkompetisie

Tien nuwe wyke is deur die Wyn-en-Spiritusraad se Afbakeningskomitee goedgekeur as terreine met eiesoortige grond en klimaat. Hierdie wynwyke sluit aan by die vele ander voorbeelde van gebiede in die Kaapse wynlande met wynterreine, oftewel terroir, met merkwaardige eiesoortigheid.

Hierdie nuwe afbakenings sal bydra tot selfs meer interessante resultate by die Novare SA Terroir-wynkompetisie. Hierdie eksklusiewe wynkompetisie, nou  in sy 14de jaar, is onlangs deur die Suid-Afrikaanse nasionale wynskouvereniging (SANWSA) oorgeneem. Die doel is om hierdie oorsprong-gebaseerde wynkompetisie se erkenning van top wyne uit spesifieke terroir uit te bou.

Vyf van die nuwe wyke is deur die Afbakeningskomitee in die Robertson-wyndistrik geïdentifiseer, naamlik Ashton, Goedemoed, Goree, Goudmyn en Zandrivier.

In die Swartland-distrik is twee wyke bygevoeg, naamlik Paardeberg en Paardeberg-Suid, en die res is Agter-Paarl in die Paarl-distrik, Springfontein Rim naby Stanford in die Walker Bay-distrik, en Nieuwoudtville in die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap.

Slegs wyne wat by die Wyn-en-Spiritusraad gesertifiseer is as Wyn van Oorsprong van ʼn spesifieke wyk, ʼn distrik, ʼn landgoed en ’n enkelwingerd mag deelneem. Dit is jaarliks insiggewend om te sien watter terreine top wyne van watter kultivars en style oplewer.

Novare Terroir-trofeë vir die top enkelwingerdwyn, top landgoed, top wyn-area, top terroir-produsent en top wyn van die kompetisie word jaarliks toegeken.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>