Nuwe, vuurwarm Zonnebloem Lauréat propvol bessies

Date posted:
June 18, 2010

Zonnebloem, alombekend vir sy volborstige rooiwyn, het pas die ryk, egalige en speseryagtige 2007- Lauréat, sy keldertrots, vrygestel - die perfekte pasmaat vir koue wintersaande voor die kaggel.

 

Zonnebloem Lauréat 2007 is ‘n weelderige versnit wat bestaan uit cabernet sauvignon, merlot en ’n titseltjie shiraz. Die druiwe is met hand gepluk en afkomstig vanaf wingerde in die Stellenbosch-omgewing. Die wyn is vir 14 maande verouder in ‘n kombinasie van Franse, Amerikaanse en Hongaarse eikehoutvate om die kompleksiteit en diepte van hierdie volronde staatmaker in die koue winter te verseker.

 

Die Lauréat vertoon diep-rooi in kleur en is volop framboos-, braambessie- en swartbessie-geure, elegant afgerond met ‘n sagte sweempie vanielje.

 

“Zonnebloem Lauréat het ‘n romerige palet ryk aan kompleksiteit met kragtige speserye wat ondersteun word deur vanielje, afkomstig van die tyd wat dit in eikehout deurgebring het. Dit bevat ‘n heerlike bessie-smaak wat deurgaans talm,” verduidelik die wynmaker, Bonny van Niekerk. 

 

Zonnebloem-wyne word slegs teen optimale kwalitiet vrygestel nadat dit tydsaam in die kelder verouder is. Hierdie wyne toon indrukwekkende struktuur met ryk geure, maar bly steeds toeganklik en heerlik op die tong.

 

Bonny stel voor die Lauréat word op sy eie of saam met ‘n ryk wilds- of rooivleisdis bedien, of met geurige kase tydens ‘n gesellige samesyn.

 

Die Zonnebloem Lauréat 2007 is beskikbaar teen sowat R85 per bottel. Vir meer inligting, besoek www.zonnebloem.co.za

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram