Nadat dit altesaam 12 maande in die vat deurgebring het, en die vate elke twee weke gerol is om blootstelling aan die moer te verhoog, is die langverwagte 2009- Rhinofields Chardonnay van Durbanville Hills nou beskikbaar.
Die kelder het verlede jaar die vatrolproses bekend gestel vir sy reserwereeks- Chardonnay teenoor die meer konvensionele roer van die moer. “Dit is ’n sagter proses,” verduidelik Martin Moore, die keldermeester. “Normaalweg sou ons die vate se proppe uitgehaal het om die moer te roer, maar noudat ons hulle kan toehou, kan ons die blootstelling aan suurstof beperk en sodoende die wyn se delikate aromas behou en die houtonttrekking beperk. Die tegniek het vir ’n heerlike, romerige tekstuur in die wyn gesorg en dra by tot ’n soomlose integrasie met die hout.”
Moore sê hoewel die Chardonnay nou reeds uitmuntend smaak, sal die geure met die verloop van tyd sterker word en die wyn se kompleksiteit toeneem. Die tekstuur daarvan sal versag en die mondgevoel sal selfs meer romerig word.
Geniet hierdie volronde, weelderige Chardonnay - ryk in sitrus, perske, gedroogde appelkose en botterkaramel - as ’n aptytwekker of met bredies, romerige pastadisse en sterk gegeurde kosse.
Die Rhinofields-reeks word net in beperkte hoeveelhede gemaak. Die naam verwys na die inheemse Kaapse renosterveld wat naby die Durbanville Hills-kelder gevind word.Die Durbanville Hills-plase is lid van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief (BWI) en beskerm 220 hektaar van hierdie bedreigde plantegroei.
Die 2009 Rhinofields Chardonnay sal na verwagting sowat R90 per 750ml bottel kos.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast