Nuwe oesjaar van Simonsig se Cuvée Royale laat die feestyd vonkel

Date posted:
November 8, 2010

Sedert wyle Frans Malan Suid-Afrika sy eerste bottel-gegiste vonkelwyn in 1971 onthul het, vonkel die Simonsig-landgoed onverpoos voort met sprankelgenot, soos nou ook te vinde in die jongste oesjaar van hulle vlagskip- Cap Classique, Cuvee Royale 2005 Blanc de Blancs.

 

Hierdie besonderse vonkelwyn, geïnspireer deur die egte Franse tradisie, is gemaak van die beste chardonnay (96%) en pinot noir (4%), en het vyf jaar op die gisafsaksel deurgebring wat aan hom sy ryk kompleksiteit, finesse en indrukwekkende fyn mousse verleen. Sy voorgangers spruit uit die 2004-, 2003-, 1999-, 1996- and 1992-oesjare wat dui op die selektiewe manier waarop dié topgehalte- Cap Classique gemaak en vrygestel word.

 

Die 2004-oesjaar het ‘n goue medalje by sowel die Veritas- as die Michelangelo- internasionale wyntoekennings in 2009 ingepalm, terwyl die Cuvée Royale 2003 in dieselfde jaar die  Vonkelwyn-trofee by die Santam Classic Wine-toekennings gewen het.

 

“Die hart van ‘n ware Cap Classique lê in die pers van die heel trosse druiwe wat dan die suiwerste en mees delikate sap, ook bekend as die cuvée, vrystel. Vir ons Cuvée Royale gebruik ons slegs die eerste, beste gehalte druiwesap van die eerste pers. Indien die kwaliteit van ‘n spesifieke oesjaar nie na wense is nie, produseer ons bloot eenvoudig net nie hierdie vonkel daardie jaar nie,” verduidelik Hannes Meyer, die vonkelwynmaker van Simonsig.

 

Die gesofistikeerde dog uiters genotvolle en verfrissende Simonsig Cuvée Royale 2005 sprankel met ‘n strooikleurige, goue skynsel en ‘n fyn, pêrelagtige mousse wat elegant in die glas dans. Die gisting van die basiswyn het in ‘n tenk plaasgevind, terwyl ‘n gedeelte van die chardonnay (38%) vir ses maande in ouer Franse eikehoutvate gegis en verouder is wat aan die Cap Classique sy ryk, komplekse karakter en subtiele, geroosterde smaak gee.

 

Geroosterde amandels, gebotterde brioche en ryp, geel appelaromas domineer in die neus, terwyl die elegante sitrusgeure van die chardonnay ’n verleidelike finesse en ‘n klassieke, mineraalagtige varsheid op die nasmaak toon. Die Simonsig Cuvée Royale 2005 is ‘n gesofistikeerde Brut (droë) Cap Classique met uitstekende balans tussen die primêre vrugtegeure en sekondêre geure wat uit die verandering op die gismoer ontwikkel.

 

Nadat die vonkel vir vyf jaar in die kelder verouder is, het hierdie adelike Cuvée Royale nou sy optimum verouderingsvermoë bereik en kan dit nou dadelik geniet word op sy eie of saam met delikate fynproewerhappies. Probeer dit gerus saam met vis, kreef, vars oesters, kaviaar of artisjokharte. Dit is ook ‘n komkommerkoelkeuse saam met somernageregte soos vars vrugteslaai of sorbet.

 

Dié spoggerige Simonsig Cuvée Royale 2005 kos ongeveer R165 per bottel en is landwyd beskikbaar by uitsoekwynhandelaars en restaurante of direk vanaf die kelder.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram