Twee van die protégés van die Kaapse Wynmakersgilde gaan na nuwe kelders om vanjaar hul eie wyn te maak na ‘n jaar se internskap onder die wakende oog van top wynmakers.
Tamsyn Jeftha, wat verlede jaar saam met Nicky Versveld by die Company of Wine People gewerk het, skuif nou na Villiera met Jeff Grier as haar nuwe mentor. Sacha Claasen, wat eers by Villiera gewerk het, het haar by Bernhard Veller op sy boetiekwynplaas, Nitida, aangesluit.
“Dit is ‘n absolute voorreg om so ‘n entoesiastiese en aspirende wynmaker te leer hoe om uitmuntende wyne te maak,” sê Bernhard Veller, wat al baie jare ‘n lid van die gilde is.
Die gilde het bystand verleen aan sowel Sacha as Tamsyn tydens hulle finale jaar van studie, onderskeidelik by die Universitieit van Stellenbosch en Elsenberg Landbou Kollege, deur die Protégé-program se beursskema.
Links: Sacha Claasen en Bernhard Veller in Nitida se kelder.
Sacha is doelgerig om nooit op te hou leer nie en om oopkop te bly oor besluite met betrekking tot die wynmaakproses. Vir Tamsyn is dit belangrik om soveel ervaring as moontlik op te doen omtrent die verskillende wynstyle, druifsoorte en versnitte.
“Dit is baie opwindend om ‘n protégé te wees. Jy het nie net die voorreg om die beste wynmakers te ontmoet nie, maar jy het ook die geleentheid om direk van hulle te leer. Vir enige jong, onervare wynmaker is dit ‘n absolute droom wat ‘n werklikheid word,” sê Tamsyn.
“Gedurende my kort tydjie by Nitida het ek reeds meer geleer as wat ek ooit sou kon leer uit ‘n boek en deur my studies. Dit is die praktiese ondervinding, die eenmalige mentorskap, asook die kans om die ‘tricks of the trade’ met mede-wynkollegas te deel wat vir my nadere kennis van die wynmaakproses gee,” sê Sacha.
Die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program is in 2006 gestig onder leiding van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Trust met die doel om transformasie in die wynbedryf aan te moedig deur jong wynmakers te ontwikkel, te kweek en aan hulle die nodige vaardighede te leer sodat hulle self puik wynmakers kan word.
Vir meer inligting oor die gilde, skakel 021-852-0408, stuur ‘n epos aan info@capewinemakersguild.com of besoek www.capewinemakersguild.com. Studente wat belang stel om aansoek te doen vir die Protégé-program, kan die gilde se webtuiste besoek by www.capewinemakersguild.com.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast