Nuwe Mazda BT-50 maak sy buiging

Suid-Afrika het nog altyd ’n soort liefdesverhouding met bakkies gehad. Eers was dit enkelkajuitbakkies, maar toe die dubbelkajuite hul buiging maak, het daai liefdesverhouding in ’n soort orgie verander! Wat die dubbelkajuitbakkies natuurlik nóg gewilder maak, is die feit dat hulle basies twee vervoertipes in een snoer, ’n bakkie (oukei, die laaibak is effe kleiner) en ’n moutirkar.

Een van die jongste toevoegings tot hierdie gewilde en steeds groeiende mark is die nuwe BT-50 van Mazda. Die derde model in ’n nuwe geslag Mazda-voertuie is glo heeltemal herontwerp. Net so terloops, dié wat hier verkoop gaan word, word in Thailand gebou.

Daar is drie modelle, Active, Dynamic en Individual. Eersgenoemde beskik oor ’n nuwe dieselenjin van 1,9ℓ (110 kW en 350 Nm) met ’n keuse van outomatiese of handratkas. Die Dynamic- en Individual-modelle gebruik die nuwe dieselenjin van 3ℓ (140 kW en 450 Nm) en ’n sesgang- outomatiese ratkas. Die Individual is in vierwielaandrywing beskikbaar, terwyl die ander modelle tweewielaangedrewe is.

BUITE & BINNE

Mazda sê die buite-ontwerp van die nuwe BT-50 is ’n ware uitdrukking van die maatskappy se Kodo-ontwerptaal. Maar dit bly steeds pure Mazda.

Twee nuwe wiel-ontwerpe rond die buite-voorkoms pragtig af. Die Active-model kry aluminiumwiele van 17 duim, terwyl die ander twee toegerus word met aluminiumwiele van 18 duim. En die BT-50 is beskikbaar in 6 kleure.

Volgens die vervaardiger is die kajuit heeltemal herontwerp, en alles draai om die insittendes se gerief. Die afwerking is in swart materiaal, met grys op onder meer die plafon en pilare vir bietjie kontras.

TEGNOLOGIE

Vandag se voertuie raak al hoe meer soos vermaaklikheidsentrums op wiele, en die Mazda BT-50 is nie gespaar nie. Sy inligting-en-vermaakstelsel (die sogenaamde infotainment) kom met ’nskerm van 7 of 9 duim, en alles is glo by jou vingerpunte. Daar word voorsiening gemaak vir slimfone, en ’n klankstelsel met 6 luidsprekers in die Active-model en 8 in die ander twee sal die insittendes deeglik vermaak.

VEILIGHEID

Mazda sê die nuwe BT-50 het verlede jaar ’n vyfstergradering by ANCAP (Australasian New Car Assessment Program) gekry en het puik vertoon in die volgende kategorieë: Adult Occupant Protection, Child Occupant Protection en Safety Assist.

MAZDA CARE

Jip, Mazda gee om! Die nuwe BT-50 kom standaard met ’n fabriekswaarborg van 3 jaar ongeag die afstand afgelê, ’n diensplan van 3 jaar ongeag die afstand afgelê en ’n padbystandplan, ook van 3 jaar en maak nie saak van die afstand afgelê nie.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>