Nuwe leierskap, nuwe era vir wynbedryf

Date posted:
June 1, 2012

Die verkiesing van Charles Hopkins as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) by die pasafgelope jaarvergadering van die vereniging lui ‘n vernuwende era in, nie net vir dié omvattende bedryfsliggaam nie, maar ook vir die land se twee grootste en invloedrykste wynkompetisies, die SA Jongwynskou en Veritas. Hopkins neem die leisels oor by Duimpie Bayly, een van die veterane in die wynbedryf, wat na agt jaar as voorsitter uitgetree het.

 

“Ek waardeer werklik die vertroue wat my eweknieë in die wynbedryf in my stel,” sê Hopkins. “Hierdie aanstelling bied my die geleentheid om ‘n insiggewende bydrae te lewer in ‘n bedryf wat my na aan die hart lê. Ek sal graag onder meer wil toesien dat die profiel van Veritas en die SA Jongwynskou verder uitgebou word en daar ag geslaan word op die waardevolle insette van alle belanghebbendes.”

 

Hopkins, wat sedert 2005 as keldermeester by De Grendel in Durbanville die leiding neem, is een van die mees gerespekteerde wynmakers in Suid-Afrika. Hy word beskou as die land se mees ervare sauvignon blanc-beoordelaar en proe op ‘n gereelde basis by toonaangewende kompetisies soos die SA Jongwynskou, Top 10 Pinotage en International Wine and Spirit Competition. Hy tree ook op as mentor vir wynmaakstudente van Elsenburg en die Universiteit van Stellenbosch, en is betrokke by verskeie tegniese wyn- en wingerdboubesprekingsgroepe.

 

Hopkins volg inderdaad in die gedugte voetspore van groot geeste in die wynbedryf wat oor die afgelope 35 jaar voorsitter van die SANWSA was, naamlik Duimpie Bayly (2004-2012), Danie de Wet (1995-2004), Lourens Jonker (1988–1995) en NC Krone (1977-1988).

  • Die sluitingsdatum vir wyne uit die 2012-oesjaar wat aan die SA Jongwynskou wil deelneem, is om die draai met inskrywings wat op Donderdag, 21 Junie, sluit. Markklaarwyne wat om die gesogte dubbelgoue, goue, silwer en brons Veritas-medaljes wil meeding, moet nie later nie as 8 Augustus vir hierdie gesaghebbende kompetisie inskryf. 

Besoek www.youngwineshow.co.za en www.veritas.co.za vir volledige inligting omtrent dié twee kompetisies of kontak Elsabe Ferreira by 021 863 1599 of via epos by information@veritas.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram