Nuwe Laszlo-versnit ‘n treffende huldeblyk

Date posted:
October 13, 2009

Die tweede oesjaar van die eksklusiewe Laszlo-versnit, wat hulde bring aan een van Suid-Afrika se ware wynpioniers, is pas bekend gestel. Die Laszlo 2006, wat deur die bekroonde Fleur du Cap-wynmaakspan by Die Bergkelder gemaak word,  is die perfekte huldeblyk aan Dr. Julius Laszlo, die innoverende keldermeester by Die Bergkelder wat feitlik eiehandig die Suid-Afrikaanse wynbedryf tot internasionale vlak in die tagtiger jare verhef het.

 

Andrea Freeborough, die keldermeester, tesame met die rooiwynmaakspan by Die Bergkelder, het net die beste vaatjies vir die Laszlo-versnit gekies en edelkultivars gebruik wat Dr. Laszlo self help vestig het in die Kaapse wynlande. Na noukeurige seleksie van vaatjies en verskeie proefnemings, het die span op die finale versnit besluit wat bestaan uit 43% cabernet sauvignon, 30% merlot, 18% shiraz, 6% petit verdot en 3% malbec.

 

Talle besoeke aan die onderskeie wingerde het verseker dat die druiwe eers met die hand gepluk is toe hulle optimale geure en 'n diep kleurintensiteit onwikkel het en die suikervlakke en suurgehalte in perfekte balans met mekaar was. In die kelder is die Laszlo 2006 vir 28 maande in Franse eikehoutvaatjies van 300 liter verouder waarna dit 'n verdere ses maande in die bottel verouder is. Die eindresultaat is 'n ryk en kragtige versnit wat uiting gee aan Fleur du Cap se filosofie van minimale hantering.

 

Laszlo 2006 het 'n intense diep pruimkleur met 'n helder skynsel. In die neus het hierdie volronde wyn ryk, komplekse lae aromas van swartkersies, swartbessies en vrugtekoek met subtiele nuanses van potloodskerpmaaksels en verruklike peperment-sjokoladegeure. Die weelderige geure volg deur na die mond met goed saamgestelde tabakgeure wat gebalanseer word deur sederspeserye en omhul is met ferm tanniene.

 

Die Laszlo 2006 is teen ongeveer R220 per bottel beskikbaar by Die Bergkelder Vinotèque (Tel: 021-809 8280) en toonaangewende wynhandelaars. Die wyn is goed gestruktureerd en beskik oor die nodige varsheid om 'n rakleeftyd van tot 8 jaar te verseker.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram