Nuwe fris en vars Simonsig Sunbird Sauvignon Blanc

Date posted:
June 28, 2010

 

Simonsig vang die “minder-is-meer’’-gees van die 2010-oes vas met die vrystelling van die landgoed se nuwe sauvignon blanc genaamd Sunbird weens sy vars, uitgelate karakter.

 

“Kleiner opbrengste het die 2010-oes, my eerste by Simonsig, aansienlik meer uitdagend gemaak. Sauvignon blanc was die ster-kultivar in 2009 en ons het geweet dit sou moeilik wees om by verlede jaar se gehalte kers vas te hou. Maar nou is die bewys in die bottel en kan ons met trots sê dat die kwaliteit gelykstaande of selfs beter as verlede jaar is,” vertel Hannes Meyer, die nuwe wynmaker van Simonsig se witwyne.

 

Hierdie toeganklike, droë witwyn verlei met ‘n vars intensiteit en verfrissende, groenrissie- en tropiese geure nes die vrolike jangroentjie wat gereeld nes skrop in inheemse Kaapse fynbosgebiede waar ook uitstekende sauvignon blanc floreer.

 

Die uitsonderlike gehalte van die Simonsig Sunbird Sauvignon Blanc 2010 kan toegeskryf word aan gunstige, kouer groeitoestande met sterk winde tydens die blomseisoen wat bygedra het tot die laer opbrengs van kleiner trosse met indrukwekkende vrugtegeure. Die optimale, lang en stadige rypwordproses het hoë natuurlike suur en ‘n indrukwekkende groenrissie-geurprofiel by die druiwe ingeboesem.

 

“Ons was baie beïndruk met die gehalte en sterk mineraalagtige karakter van die druiwe wat ons vanaf die koeler Weskus-area ingebring het. Dit, tesame met die kwaliteit van die druiwe afkomstig vanaf hoogliggende Elgin- en Simonsig-wingerde, maak van ons 2010-oesjaar ‘n wenner met ‘n lewendige, uiteenlopende smaakprofiel wat wissel van groenrissie, vye en kiwivrug tot meer lywige soeter tropiese geure in die mond,” verduidelik Hannes.

 

Stralend, met ‘n jeugdige groen gloed, pronk Simonsig Sunbird Sauvignon Blanc 2010 met uitbundige tropiese vere terwyl groenrissie en aspersie die wyn se mondgevoel afrond. Die wyn se skoon, mineraalagtige karakter en natuurlike suur, lig die gekonsentreerde geure en verseker ‘n vars, talmende nasmaak.

 

Die wyn kos R54 per bottle en kan op sy eie of saam met seekos, hoender en kalkoen, of pastageregte geniet word. Vars aspersies tel ook die wyn se geure mooi op. Dis ook verfrissend met ‘n lekker vars slaai.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram