Nuwe Fleur du Cap Merlot 2009 is 'n sagte rooie vir snoesige winterkuiers

Date posted:
April 18, 2011

Met 'n byt in die lug wat die koms van winter aankondig, is dit nou die tyd om die rooiwyn nader te trek, op te krul voor die kaggel en heerlike, ryk koesterkos te geniet. En om jou hiermee te help, het Fleur du Cap pas die 2009-oesjaar van hul Bergkelder Selection Merlot bekend gestel, 'n sysagte wyn met aanloklike bessiegeure wat dit die perfekte pasmaat vir gesellige kuiers voor die kaggelvuur maak.

Anders as die kragtige cabernet sauvignons en rooiversnitwyne wat mans gewoonlik saam met hulle biefstukke verkies, is die Fleur du Cap Merlot 2009 eerder 'n sagter wyn wat die vroulike sintuie betower.

“Weelderig”, “maklik drinkbaar” en “sag” is almal woorde wat die Fleur du Cap Merlot perfek opsom. Merlot-druiwe het nie so 'n dik dop soos die ander, meer manlike rooidruifsoorte nie en het daarom sagter tanniene wat die wyn meer toeganklik en sag in die mond maak. Die wyn se prominente vrugtegeure streel die sintuie terwyl die kragtigheid eie aan die meer lywige rooiwyne ontbreek sodat dit met 'n delicate, talmende nasmaak in die mond eindig.

Hierdie sagter eienskappe maak merlot die ideale rooiwyn vir vroue wat 'n wyn verkies wat oorloop van kersie- en pruimgeure, maar steeds 'n sysagte tekstuur het. Merlot vind ook groot byval as 'n heerlike en veelsydige koswyn. Dit verrig wondere saam met pluimvee, gul rooivleisgeregte, volgeurige vis, eend en selfs geurige kase.

Vanuit 'n vroulike oogpunt geniet ek regtig merlot omdat dit gepas en lekker is om voor te sit saam met alledaagse geregte wat maklik en vinnig aanmekaar geslaan word, soos geroosterde hoender of herderspastei, wat die hele gesin boonop kan geniet,” sê die keldermeester, Andrea Freeborough, wat aan die stuur staan van die bekroonde wynmaakspan by Die Bergkelder – die tuiste van Fleur du Cap-wyne in Stellenbosch.

Die Fleur du Cap Bergkelder Selection Merlot 2009 is teen ongeveer R65 per bottel beskikbaar by alle toonaangewende wynwinkels. Vir meer besonderhede, besoek www.fleurducap.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram