Nuwe Eikendal Semillon ‘n kosmos van elegante geure

Date posted:
April 7, 2009

Eikendal, die prominente Kaapse wynkelder geleë aan die voet van die Helderberg, het sopas sy eerste witwyn vir 2009 bekendgestel – die ryk, stylvolle Semillon 2008.

 

As ‘n jaarlikse instelling hou hierdie kelder na afloop van elke oes ‘n feestelike  doopseremonie waartydens hulle dan vir hul eerste wyn van daardie spesifieke jaar ‘n gepaste naam gee. Die Eikendal Semillon 2008 is verlede jaar deur die bekende radiopersoonlikheid, John Maytham, gedoop met die naam 9th House weens sy uiteraardse elegansie en finesse. 

 

“In astrologie is die negende huis die huis wat handel oor reis en kultuur, asook intellektuele en spirituele verfyndheid. Hierdie elemente is almal te bespeur in die maak en smaak van hierdie ‘ster’ wyn,” verduidelik Eikendal se keldermeester, Henry Kotzé.

 

‘n Kosmos van harmonieuse vrugte-aromas en ‘n goed gebalanseerde suurheid is bekom deur sorgvuldige gisting in klein eikehoutvaatjies. Dié klassieke, droë witwyn spog ook met ‘n hemelse, satynagtige tekstuur. Die Eikendal Semillon 2008  is meer grasieus as sy uitdrukkingsvolle voorganger en straal met ‘n songoud-gloed en die geur van byewas en pomelo, met ‘n subtiele ondertoon van karamel en toffie op die neus.

 

Die wyn het ses maande op sy gismoer deurgebring en toon ‘n perfekte balans tussen tropiese varsheid en volwassenheid. Die wyn bekoor met ‘n kenmerkende aardse mineraalagtige smaak met ‘n suurlemoen- en heuningkarakter, verdiep met ‘n romerige rykheid, wat in die mond talm totdat dit met ‘n skoon, perskeagtige nasmaak afsluit.    

 

Die Eikendal Semillon 2008 moet sommer dadelik gedrink word om sy vars vrugagtige aromas ten volle te geniet, maar beskik ook oor ‘n uitstekende verouderingspotensiaal. Geniet hierdie goue-genot met geurige hoender- en varkdisse, of saam met jou gunsteling Thai-geregte. Die wyn smaak ook vorentoe met slaai en seekos, en is ‘n bobaas pasmaat vir romerige pastasouse.

 

Die wyn kos ongeveer R66 per bottel en is landwyd beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars of direk vanaf die Eikendal kelder, geleë op die R44 tussen Somerset-Wes en Stellenbosch.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram