Die erkende chardonnay-produsent, Eikendal, het die perfekte harmonie tussen twee individuele en heeltemal uiteenlopende wingerde vasgevang in sy 2008-oesjaar wat sopas die lig gesien het – ‘n volronde chardonnay met ‘n stylvolle sin vir balans.
Die druiwe wat gebruik is vir hierdie klassieke witwyn is afkomstig vanaf twee verskillende wingerde op hierdie bekende Helderberg-wynplaas, met die een wat aangevuur word deur sanderige, alluviale grond, terwyl die ander een in ‘n mineraalryke granietgrond floreer.
“Ons Chardonnay 2008 slaan die engelse spreekwoord van ‘opposites attract’ so op sy kop. Die elegante integrasie van elke wingerd se unieke plek van herkoms, karakter en kwaliteit is wat van hierdie wyn ‘n wenner maak,” vertel Eikendal se keldermeester, Henry Kotzé.
Die druiwe wat afkomstig is van die vrugbare spoelgrond verleen ‘n rojale smaakspektrum met ryk lae botterkaramel en aromatiese tropiese vrugte, terwyl die ander druiwe ‘n vars mineraalagtige karakter, goeie suurbalans en die belofte van volhoubaarheid by die chardonnay koester.
“‘n Lang romerige nasmaak verleen elegansie aan hierdie komplekse wyn, verryk met ‘n geroosterde ondertoon te danke aan sewe maande se veroudering in Franse eikehout voordat die wyn versny en gebottel is,” voeg Henry by.
Die wyn kan omiddellik geniet word of vir nog vyf jaar in jou kelder bewaar word om sy volle potensiaal te bereik. Dit is ‘n uitstekende wynkeuse saam met kalkoen, ryp, romerige kase en seekos.
Die Eikendal Chardonnay 2008 kos ongeveer R70 per bottel en is landwyd beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars of direk vanaf die kelder, geleë op die R44 tussen Somerset-Wes en Stellenbosch.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast