Nuwe chenin blanc sit ou tradisie voort op Neethlingshof

Date posted:
July 19, 2012

Dis die eerste chenin blanc wat hy in sy bykans tien jaar op Neethlingshof maak. Hy het egter nie daarmee nuwe terrein betree nie, maar gewoon 'n ou tradisie voortgesit want dekades gelede was chenin blanc by verre die oorheersende kultivar op dié landgoed, met 70% van die totale oes.

 

Aan die woord is De Wet Viljoen, wynmaker van hierdie bekende landgoed op die Polkadraaipad naby die bekende universiteitsdorp wat Simon van der Stel, vader van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, langs die Eersterivier aangelê het.

 

Volgens de Wet is die terroir van Stellenbosch uitstekend geskik vir chenin blanc van die beste gehalte, en Neethlingshof, wat tussen die Bottelary-heuwels en Papegaaisberg lê, is hierin geen uitsondering nie. Toe daar teen die eeuwending begin is met die herbeplanning van die hele plaas, is chenin blanc dan ook geïdentifiseer as een van die kultivars wat in sy diep, vrugbare grond goed sal aard.

 

Die eerste blok is in 2008 aangeplant en die jong stokke het maar hul tweede drag vanjaar gelewer. “Ek sal net 'n wyn onder ons naam botteleer as ek volkome tevrede met die gehalte daarvan is. Die wyn wat ek verlede jaar van die eerste drag gemaak het, het ek versny in ander wyne omdat die stokke nog te jonk was om die intensiteit van geur te lewer wat ons verlang. Vanjaar is dit egter 'n heeltemal ander storie en ek het nie 'n oomblik gehuiwer om ons naam op hierdie toevoeging tot ons reeks te plaas nie.

 

Links: De Wet Viljoen, meer as net 'n wynmaker, maar 'n ware wynmaakheer.

 

“Ons het destyds drie klone vir die aanplanting gekies. In al drie oorheers meer tropiese geure. Dit word baie duidelik in die nuwe wyn weerspieël, hoewel daar ook interessante aromas van steenvrugte, asook van peer en koejawel in die neus te bespeur is. Hierdie rykdom van geure word egter goed gebalanseer in die wyn wat ek op die moer laat lê het om daardie romerige mondgevoel te ontwikkel.

 

“Na my mening het ons 'n behoefte aan nog 'n wit wyn in ons reeks gehad wat bestaan uit vier wyne – twee sauvignon blancs waarvan een 'n enkelwingerdwyn is, 'n ongehoute chardonnay en 'n gewürtztraminer. Vir my is die nuwe chenin blanc in perfekte balans met die bestaande kwartet en ek is seker dit sal die ervaring verryk van mense wat ons wyn ken.”

 

Die 2012- Neethlingshof Chenin Blanc sal na verwagting vanaf die middel van Julie in die kleinhandel teen R35 tot R40 per bottel beskikbaar wees.

                                                                    

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram