’Nuwe’ Bergkelder bied intieme en nostalgiese wynervaring

Date posted:
August 12, 2010

Die Bergkelder, die beroemde ondergrondse kelder aan die hange van die Papegaaiberg en die tuiste van Fleur du Cap-wyne in Stellenbosch, is heropen na noukeurige opknapping om wynliefhebbers die geleendheid te gun om die wyne en hul oorsprong meer intiem te ervaar.

 

Die Bergkelder is amptelik in 1968 geopen en was die eerste in sy soort in die suidelike halfrond. Dit was inderdaad die verwesenliking van die drome van Dr Anton Rupert en Dr Alfred Baumgartner, die direkteure van die Distillers Korporasie (SA) Beperk, die destydse eienaar van die eiendom. Dié groot belegging in die tegnologies gevorderde ondergrondse wynkelder vir die maak van gehaltewyne was ’n groot ommeswaai vir die organisasie wat toe nog die meeste van sy wins uit brandewyn gemaak het.

 

Dr Baumgartner, wat vir 35 jaar die hoof-chemikus en -wyntegnoloog was, het die wêreld se mees moderne toerusting en tegnieke ingespan om die beste wyne in die land onder die Fleur du Cap- en Stellenryk-etikette te maak.

 

In die sewentigerjare, met Dr Julius Laszlo as visioenêre keldermeester, het Die Bergkelder ‘n deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Dr Laszlo was vasberade om wêreldklas-wyne te maak en was een van die voorstaanders van nuwe plantmateriaal. Hy het druiweprodusente aangemoedig om nuwe, klassieke edelvariëteite aan te plant, insluitend chardonnay, sauvignon blanc, cabernet sauvignon, cabernet franc en merlot.

 

As ’n huldeblyk aan Dr Laszlo, wat in Julie vanjaar oorlede is, word ’n kamer trots aan hom opgedra vir privaatproë in die nuwe, opgeknapte Bergkelder.

 

Die Bergkelder bied aan wynliefhebbers Fleur du Cap-proeë in die hart van die ondergrondse kelder, waar besoekers ’n intieme ervaring met die wyne en die keldergeskiedenis kan beleef.

 

Sonder om inbraak te maak op die unieke atmosfeer wat sinoniem is met Die Bergkelder, is die beligting opgegradeer sodat wynliefhebbers vrylik deur die stil kelderruimtes kan dwaal waar duisende bottels wyn geduldig lê en onder optimale omstandighede verouder.

 

Die Bergkelder bied ’n spesiale diens aan wynversamelaars. Kies jou gunstelingwyn uit die Vinotèque en laat dit onder perfekte toestande in die kelder verouder sodat jy jou bottel wyn kan geniet wanneer dit op sy beste is.

 

Die museum wat langs die wynwinkel geleë is, sal jou op ’n reis na die verlede neem waar jy items soos ou Italiaanse perdekarre, ’n ou wynpers, bottels, glase en botteloopmakers sal vind.

 

Die Bergkelder is Maandae tot Saterdae vir keldertoere en proë oop. Vir meer inligting en vir besprekings, skakel (021) 809 8025 of besoek www.fleurducap.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram