Nuwe Allesverloren Shiraz 2009 trap diep spore

Date posted:
March 25, 2010

Allesverloren – die oudste wynlandgoed in die Swartland alombekend vir sy en port en rooiwyn – het pas die-2009 oesjaar van sy volronde Shiraz vrygestel, ‘n wyn met ’n ryk geskiedenis vanaf die gul helling van die Kasteelberg.

 

Die 2009- Shiraz, verouderd in hoofsaaklik Franse eikehoutvate, is vrygestel om die groot vraag na hierdie gewilde wyn op sowel die plaaslike as die internasionale mark te bevredig. Die wyn toon ‘n goeie struktuur met vele eienskappe van ‘n kwaliteitwyn wat oor die jare met veroudering selfs nog meer karakter sal skep.

 

“Die Allesverloren Shiraz 2009 is ‘n diep robynrooi en volop in geure van swartbessie, pruime en sigaarkissie, afgerond deur ‘n sweempie eikehout, terwyl hy die mond vul en spog met ‘n goeie tannienstruktuur en delikate spel van ryp vrugte,” beskryf die wynmaker, Danie Malan.

 

Die druiwe wat vir die wyn gebruik is, is met die hand gepluk vanuit wingerde wat in 1969 geplant is. Danie staan die sukses van sy wyne meestal aan Allesverloren se terroir toe. “Die grondsoort is ‘n mengsel van leisteen en verweerde sandsteen, wat veroorsaak dat die wortels van die wingerde ‘n ongewone diepte bereik op die landgoed en sorg vir gesonde, volhoubare wingerde. Die sandsteenstruktuur is een van die beduidendste boustene wat die besonderse karakter van Allesverloren se wyne vorm.”

 

Allesverloren se ligging sorg vir kragtige, volronde rooi- en gefortifiseerde wyne wat ‘n goeie konsentrasie vrugtegeure vertoon. Die rooiwyne word in die tradisionele Ou Wêreldse styl gemaak wat wyne met diepte, karakter en verouderingspotensiaal oplewer.

 

Danie stel voor dat die wyn saam met pluimvee, kalfsvleis en rooivleisdisse bedien word. Allesverloren Shiraz 2009 is beskikbaar teen R85 by drankwinkels landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram