Nuiba: Die verlede en die hede vat hande in 4 puik wyne

Nuiba is nie net ’n woord nie, en ook nie net ’n wyn nie. Nuiba is ’n plek wat baie spesiale betekenis het vir die wynmaker Suzanne Coetzee (foto bo). Suzanne se liefde vir haar familieplaas in Namibië het in ’n passie vir wynmaak ontwikkel en uiteindelik gelei tot die skep van ’n boetiek-wynreeks met die gepaste naam Four Post.

Soos die naam aandui, is daar vier wyne in die reeks, naamlik ’n Semillon Sauvignon Blanc (1st Post), ’n Shiraz (2nd Post), ’n Cape Blend (3rd Post) en die 4th Post wat ’n Semillon Malbec-versnit is. Suzanne verkry haar druiwe hoofsaaklik uit die Piekenierskloof wat bekend is vir sy bosstokke wat in droëland-omstandighede groei en aanleiding gee tot klein korrels met hoë konsentrasies en unieke geurprofiele.

Suzanne se wynmaakfilosofie is om die primêre geure van die druiwe te behou deur so min moontlik met die wynmaakproses in te meng. Die druiwe word in oop tenks gegis wat maksimum-deurdruk toelaat waarna die wyn na ouer vate oorgepomp word vir appelmelksuurgisting en veroudering.

Die beperkte 1st Post 2016, ’n Semillon Sauvignon Blanc-versnit,  het ’n ligte geel strooikleur met groen skynsels wanneer in die lig gehou word. Dis ’n lewendige wyn vol ryp vrugte-aromas, onder meer wit perske en sweempies gras. Van die eerste sluk af is hierdie wyn pure genot. In die mond is daar lewendige geure van groen appel en sitrus, ’n sagte middelmondgevoel en ’n verfrissende einde. Pragtige sauvignon-geure van soet lemmetjie, spanspek en veselperske word waargeneem, terwyl die “gewig” van die semillon die wyn perfek balanseer in die mond. Die geïntegreerde eikehoutgeure sorg vir ’n romerige smaak. Dis die ideale koswyn.

Die Shiraz, ook bekend as die 2nd Post 2016, is ’n wyn met sappige rooivrugtegeure ondersteun deur subtiele eikehout, net genoeg om nie afbreek te doen aan die primêre shiraz-vrugtegeure nie. Die wyn se ferm tanniene maak dat dit die ideale maat is vir sappige biefstuk of speseryagtige kerrie.

Die Nuiba 3rd Post 2016 is ’n Kaapse versnit (oftewel Cape Blend) ten volle gemaak van druiwe uit die Piekenierskloof. Dit bestaan uit 52% pinotage, 30% cabernet sauvignon en 18% grenache. Die pinotage-druiwe kom uit wingerde ouer as 35 jaar, terwyl die cabernet afkomstig is van bosstokke. Die wyn het ’n intens vruggedrewe karakter met titsels pruime en kersies. Die cabernet sauvignon-druiwe gee die wyn genoeg struktuur om goeie veroudering te verseker, terwyl die grenache finesse voorsien. Die wyn is die ideale maat vir heilsame disse soos osstert en lamskenkel.

Die 4th Post 2017, ’n Semillon Malbec-versnit, rond die reeks af. Dis die eerste keer dat hierdie twee Bordeaux-kultivars saamgesnoer word, en hulle is die ideale kombinasie vir hierdie unieke rosé-wyn. Die druiwe kom uit die Stellenbosch-omgewing en die wyn is in derdevulvate gegis wat kompleksiteit en ’n heerlike mondgevoel verleen terwyl dit steeds sy vrugtegeure en varsheid behou. Dis die ideale somerwyn wat op sy eie geniet kan word, verkil,  of saam met seekosgeregte soos geskroeide salm of paella.

Hierdie eksklusiewe wyne is slegs aanlyn en in beperkte hoeveelhede beskikbaar via www.nuibawines.co.za. Die pryse is R190 vir die 1st Post, R190 vir die 2nd Post, R285 vir die 3rd Post en R115 vir die 4th Post.

Met hul etikette wat ’n eg Namibiese plaaskarakter uitbeeld, is die eksklusiewe Nuiba-wynreeks beslis ’n plek werd in enige wynliefhebber se versameling.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>