Novare SA Terroir-wyntoekennings vol verrassings

Die 15de jaarlikse Novare SA Terroir-wyntoekennings se uitslae beeld weer eens die Wes-Kaap uit as ʼn besonder veelsydige wyngebied met uiteenlopende en puik terroir wat ʼn verskeidenheid produkte van top gehalte oplewer. Altesaam vyf trofeë en 32 nasionale wenners is aangewys.

Uit die meer as 240 inskrywings van uiteenlopende kultivars en wynstyle is die Novare Trofee vir SA Terroir Top Wyn aan ʼn vierjaaroue chenin blanc uit Stanford in Walkerbaai toegeken, die Springfontein Jil’s Dune Chenin Blanc 2016. Dit is slegs die tweede keer dat ’n trofee vir die algehele wenwyn toegeken word.

Lourensford by Somerset-Wes het vanjaar uitgeblink met die Novare Trofee vir die SA Terroir Top-wynlandgoed. Hulle het ook die trofee vir die Top Enkelwingerdwyn verwerf met die Lourensford Limited Release Sémillon Noble Late Harvest 2014. Laasgenoemde was ook die Nasionale Wenner van die Top Natuurlike Soetwyn-kategorie, terwyl die Lourensford Limited Release Viognier 2019 die nasionale wenner van die viognier-inskrywings is.

Die Novare Trofee vir Suid-Afrika se Top Terroir Produsent is toegeken aan Stettyn Wynkelder by Villiersdorp. Benewens verskeie wyne van hierdie kelder wat uitstekende punte behaal het, het Stettyn Wynkelder ook die nasionale wenwyne vir Wit Versnit en Rosé opgelewer, onderskeidelik die Stettyn Stone White (Chenin Blanc/Sauvignon Blanc) 2020 en Stettyn Family Vineyards Rosé (Chardonnay/Pinot Noir) 2020.

Mededinging vir die wenner van die Novare Trofee vir SA Terroir Top Gebied is altyd besonder sterk weens die aantal wyne wat goed presteer en die grootte van die terreine ter sprake. Die Groenberg-wyk in Wellington is vanjaar met dié trofee bekroon deur drie nasionale wenwyne op te lewer, die Mischa Rousanne 2020, Mischa Petit Sirah 2019 en Linton Park Estate Malbec 2018.

Groenberg het ook gesorg vir vier areawenners uit die Wellington–distrik. Vanjaar is vir die eerste keer ook die nasionale wenner van ʼn Gesertifiseerde Erfenis Wingerdwyn toegeken. Die wenner was van Citrusdal, die Piekenierskloof Heidedal Cinsaut 2018.

Die betekenisvolle plek van enkelwingerde in die Wyn van Oorsprong-stelsel is vanjaar beklemtoon deurdat sewe enkelwingerdwyne as nasionale wenwyne aangewys is.  Geen wyn verteenwoordig ʼn terroir meer spesifiek as ʼn enkelwingerdwyn nie.

Die ander nasionale wenners van die verskillende style en kultivars is:

Bartinney Cabernet Sauvignon 2015,

Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2004,

Jordan Nine Yards Chardonnay 2018,

Skuinsberg Cinsaut 2019,

Bon Courage André’s Fame Colombard 2020,

Piekenierskloof Grenache Noir 2019,

Villa Esposto Straw Wine 2017,

Mariëtte Chardonnay MCC 2014,

Lanzerac Merlot 2018,

Nuy Wit Muskadel 2013,

Mischa Estate Reserve Range 2019,

Le Bonheur Petit Verdot Reserve 2018,

Mariëtte Pinot Blanc 2019,

Apogée Pinot Noir 2015,

Flagstone Writer’s Block Pinotage 2018,

Wildekrans Cape Blend Barrel Select Reserve 2017 (Pinotage/Pinot Noir/Shiraz/Cabernet Sauvignon),

Lutzville Sauvignon Blanc 2020,

Benguela Cove Catalina Sémillon 2018,

Old Road Wine Co Pepper Wind Syrah 2017,

Kranskop Tannat 2018, De Krans Tinta Roriz 2018,

Boplaas Touriga Nacional 2019 en

Vrede en Lust Early Mist Riesling 2019.

By die jaarlikse Novare SA Terroir-wyntoekennings word slegs wyne wat gesertifiseer is as enkelwingerdwyn, landgoed-geproduseerde wyn en wyn uit ʼn wyk of ʼn distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, beoordeel. Benewens die nasionale wenners en Novare-trofeë, word die beste wyne in die verskillende gebiede ook aangewys.

Die volledige uitslae is beskikbaar op die webwerf www.terroirwineawards.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>