Nou mág mens drink en bestuur!

Die groeiende vraag na wyn met geen of lae alkohol is ’n aanduiding van die toename in mense se bewustheid van gesondheid en algemene welsyn. Maar dis nie net die gesondheidsbewustes wat hierdie mark laat groei nie, daar is ook diegene wat nie agter die stuur van ’n voertuig wil inskuif na ’n lekker “kuier” met vriende en/of familie nie, en natuurlik geheelonthouers en swanger vrouens.

Wyn met geen of lae alkohol bied aan hierdie mense ’n goeie alternatief. Maar dit moet dan immers steeds soos wyn smaak, min of meer, nie watering of opgekikker met geursels nie.

Die kuns is dus om ’n droë wyn van goeie gehalte te skep met geen of lae alkohol. Daar is baie wyne op die mark met lae alkohol, maar hulle bevat ook baie suiker wat natuurlik nie wyd byval vind in ’n wêreld vol gesondheidsbewustes nie.

Die doel van ’n waardige geen-alkohol- of lae-alkohol-wyn is om steeds die kompleksiteit en eienskappe van die betrokke druifsoort ten toon te stel en goeie balans te bied ten opsigte van suur, geurkomponente, ensovoorts. Die gebruiker moet darem steeds kan proe of hy/sy ’n pinotage of ’n chenin blanc drink.

Daar is verskeie maniere om alkohol uit wyn te verwyder, soos spesiale wingerdpraktyke, die sogenaamde spinkegeltegnologie, membraanfiltrering en humidifisering.

Wyn met geen of min alkohol is skynbaar hier om te bly, en as mens bietjie navraag doen, kom jy agter daar’s een vir byna elke smaak. Probeer gerus ’n paar en vind jou persoonlike gunsteling. En moenie luister na wat die “wynkenners” en ander wysneuse sê nie.

Vir die doel van hierdie artikel het ons na twee wyne gekyk wat feitlik geen alkohol bevat nie. Dis Van Loveren se Radiant Red en Ravishing Rosé, en hulle bevat net 0,05% alkohol per volume elk.

Die Ravishing Red is ’n vruggedrewe wyn met ligte geure van ryp moerbei wat veral prominent in die mond voorkom, aldus die wynmaker. “Dis nie net ’n lekker wyn om op sy eie te geniet nie, maar maak ook ’n lekker aperitif óf die ideale pasmaat vir pasta, vleisdisse en pizza.”

Volgens Van Loveren vertoon die Ravishing Rosé salmpienk in die glas en bied alomteenwoordige Turkish Delight-geure. “Geniet dit as ’n gesonde aperitif of met Oosterse disse, nageregte en pizza.”

Ander wyne in hierdie kategorie waarna gerus gekyk kan word, is Leopards Leap se Natura Classic White, ’n versnit van chenin blanc en muskaat, en die Holder Lautus Savvy Rosé, ’n versnit van pinotage, cinsaut en shiraz. Albei bevat ook net 0,05% alkohol per volume.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>