Nog ‘n rooikat maak sy verskyning!

Date posted:
March 9, 2010

Neethlingshof buite Stellenbosch het pas die 2005-oesjaar van die Bordeaux-versnit in sy topreeks op die mark gebring. Die wyn word vernoem na die rooikatte wat hulle nou weer in die heuwels op en bo die plaas tuis gemaak het.  Die wyn is die tweede oesjaar wat beskikbaar gestel word sedert die naam daarvan van Laurentius na Caracal verander is om die terugkeer van hierdie skugter roofdiere na die landgoed te herdenk.

 

Die rooikatte – die Engelse naam “caracal” is afgelei van die Turkse woord “karakulak” wat “swart ore” beteken – teel aan op die landgoed sedert daar meer as twee jaar gelede begin is met ? program om inheemse habitat op die plaas te beskerm en te herstel, veral die unieke ekostelsels wat die granietkoppies omring. Die rooikatte se prooi is hoofsaaklik tarentale waarvan daar ? oorvloed op die plaas is. 

 

Soos in die geval van die 2004-oesjaar, bevat die 2005-versnit ook die drie kultivars - cabernet sauvignon, merlot en cabernet franc – waaruit die klassieke Bordeaux-versnit gewoonlik bestaan. De Wet Viljoen, die wynmaker, het egter hierdie keer ook ? bietjie malbec daarin versny wat hy sê die tanniene van die ander drie help versag. Die cabernet sauvignon oorheers met 60%, gevolg deur die merlot met 30%. Dan volg die cabernet franc en die malbec met 5% elk. 

 

“Hoewel daar net 5% van elk in die versnit is, speel die cabernet franc en die malbec myns insiens ? belangrike rol daarin om struktuur en balans aan die wyn te verskaf,” sê Viljoen.

 

Volgens hom was 2005 ? goeie jaar vir die rooiwyne van die Stellenbosch-area.  “Dit was in die begin van die groeiseisoen baie warm, maar in die weke voor pluktyd het dit plek gemaak vir koel dae waartydens die druiwe stadig ryp geword en goeie suurvlakke bereik het.” 

 

Hoewel die wyn met sy intense ryk kleur byna vyf jaar oud was voor dit op die mark gekom het, glo Viljoen dit sal eers oor nog ? paar jaar sy hoogtepunt bereik.  “Ek het die druiwe van die verskillende kultivars afsonderlik tot wyn gemaak en daarna vir 14 tot 16 maande in nuwe en tweedevulvate verouder – ek het gevind dat teen daardie tyd die houtgeure versag en die wyn se vrugtigheid weer na vore kom. Weens die styl van die wyn neem dit lank voor die verskillende komponente na versnyding ineensmelt sodat ek die wyn lank in die bottel laat verouder het om daarvoor toe te laat.”

 

Die wyn het ? beperkte verspreiding en verkoop teen sowat R110 per 750 ml bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram