Nitida stel nuwe keldertrots bekend

Date posted:
September 28, 2010

Nitida, geleë in die hartjie van die idilliese Durbanville-wynvallei, het pas ‘n nuwe keldertrots, Coronata Integration 2009, ‘n wit Bordeaux-versnit van sauvignon blanc en semillon vrygestel.


Nitida Coronata Integration 2009 het vars geure van neute en groen appel in die neus met loekwarte en ‘n talmende groen soetrissie-nasmaak wat afgerond word met fluweelsagte geure van panacotta in die mond.

 

“Die sauvignon blanc en semillon is die samesmelting van jasmyn en heuning,” sê die eienaar/wynmaker, Bernhard Veller, wat die wyn as die perfekte integrasie tussen varsheid en mondgevoel, vrugte en hout beskryf.

 

“Soos die wyn verouder, sal die sauvignon blanc se sure ferm bly, maar mettertyd sagter word met ‘n sweempie van die varsheid van die groen soetrissies wat eie is aan Nitida. Die semillon se karakter verdiep met warm heuning en ontaard dominerend in die mond,” voeg hy by.


Die Coronata Integration is die eindrusultaat van vyf jaar se waarneming en proewe met die twee druifsoorte. Dit het begin toe Bernhard genooi is om by die Kaapse Wynmakersgilde aan te sluit met die uitdaging om ‘n unieke wyn vir hul veiling te maak. As ‘n gereelde produsent van sowel sauvignon blanc as semillon, was dit ‘n logiese stap om ‘n Bordeaux-witwynversnit te oorweeg.

 

Met hierdie inspirasie het hy met sy reistog begin om meer as net ‘n “veilige“ sauvignon blanc-gedomineerde wyn te maak. Met die doelwit om witwynversnitte in Suid-Afrika te definieer, wou hy ‘n witwyn maak met ernstige kompleksiteit sonder om die varsheid wat mens van ‘n  witwyn in die warm Suid-Afrikaanse klimaat verwag, prys te gee.

 

Tydens die reistog het hulle geleer dat die twee kultivars net ten volle kan saamsmelt as hulle in die vroeë stadiums reeds as ‘n versnit saam ontwikkel. Nitida se benadering om hout te gebruik het van die begin af goed gewerk met die Coronata. Slegs gebruikte houtvate van 300 liter is gebruik en die tydperk op die hout het gewissel afhangende van die oesjaar. Hulle handgemaakte styl van wynmaak kom ook met die Coronata tot sy eie reg. Nadat die twee komponente van die wyn vir die eerste keer bymekaar kom, word die wyn nooit weer oorgepomp nie, wat help om die integrasie van die geure ten volle te behou.   

                                                                       

Die naam Coronata simboliseer wat die bekroonde wyn al bereik het. In ware Nitida-styl is dit afkomstig van die koninklike, goudkleurige Protea Coronata. Die kleur van die blom weerspieël die ryk kleur van die versnit nadat dit 6 maande in die houtvate deurgebring het. Die nektar van die protea is so onweerstaanbaar vir voëls en insekte soos die pragtige versnit vir almal is wat dit proe. Die woord Integration wys op die kombinasie van die wyn se twee kultivars wat sy intense karakter en wonderlike balans tussen varsheid en kompleksitiet blootstel. 

 

Slegs ‘n beperkte getal van 1 350 bottels van die Nitida Coronata Integration 2009 is gemaak en word verkoop by die kelderdeur teen R115 ‘n bottel. Jy sal dit ook by boetiekwynwinkels  en vooraanstaande restaurante kry. Vir meer inligting oor Nitida, skakel 021 976 1467, stuur ’n epos aan info@nitida.co.za of besoek www.nitida.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram