Nege SA wynlegendes vereer

Date posted:
October 26, 2010

Nege individue wat oor die jare heen die wynbedryf op ‘n insig-gewende wyse gevorm en beïnvloed het, is onlangs tydens die twintigste Veritas-toekenningseremonie as wyn- en brandewyn-legendes vereer.

 

“Geslagte van mense het oor die jare hul lewens en hulpbronne aan die uitbou van die Suid-Afrikaanse wynbedryf gewy,” sê Duimpie Bayly, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) wat die legende-idee geïnisieer het. “’n Paar individue se passie vir wyn en brandewyn het egter ‘n weergalose invloed op die plaaslike wynbedryf gehad, en hierdie uitsonderlike persoonlikhede het ware wynlegendes geword.”

 

Byskrif: Agter v.l.n.r: Duimpie Bayly (SANWSA), Johann Marais, Bertie van der Merwe, Buks Venter, Andrew Marais en Elsabe Ferreira (SANWSA). Voor v.l.n.r: Danie Grundling, Boet Jonker, Danie Joubert en Jos le Roux.

 

Die voorreg om as ‘n legende erken te word, gaan aan prominente, afgetrede wynmakers, brandewynmeesters, wingerdboukundiges, bedryfsleiers, wynskrywers, wynambassadeurs en wynpersoonlikhede wat op grond van hul onblusbare geesdrif vir wyn en brandewyn bygedra het tot die skep van ‘n dinamiese bedryf.

 

Die 2010-lys van legendes bestaan uit vooraanstaande wyn- en brandewyn-ikone Jos le Roux, Andrew Marais, Buks Venter, Danie Grundling, Dr Johan Marais, Boet Jonker, Bertie van der Merwe, Dr Eben Archer en Dr Danie Joubert.

 

Jos le Roux, ‘n brandewynmeester par excellence, het in 1972 by Distillers Korporasie aangesluit en later naam gemaak met sy benadering tot die hergebruik van brandewynvate – ‘n benadering wat die aandag van die wêreld op Suid-Afrika gevestig het.  Sy werk ten opsigte van die distillering van enkelkolom-distilate was ook onmisbaar vir die vooruitgang van die bedryf. Hy sal onthou word vir sy bydrae tot die ontwikkeling van die uitsonderlike Flight of the Fish Eagle-potketelbrandewyn en die Van Ryn-brandewynreeks.

 

Andrew Marais is vereer vir sy besondere bydrae tot die uitbou van die wynkultuur, veral onder die Afrikaanssprekende deel van die bevolking. Sy twee dekades as wynjoernalis, sowel as die tien jaar as hoof van die Stellenbosch Boerewynmakery se skakelafdeling, het hom ‘n loopbaan besorg waarin wyn die hoofrol gespeel het. Sy liefde vir wyn, goeie kos en kultuur het hom geïnspireer om die befaamde Oude Libertas-kompleks in Stellenbosch, met sy internasionaal bekende opelug-amfiteater en restaurant, tot stand te bring. 

 

Buks Venter se mees blywende bydrae tot die brandewynbedryf was sy baanbrekerswerk oor die invloed van hoë lugvogveroudering op brandewyn. Hy was ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van twintig kommersiële brandewyne vir die KWV waarmee hulle talle internasionale trofeë ingepalm het. 

 

Danie Grundling, vyfdegenerasie-eienaar van Grundheim Wyn en Brandewyn net buite  Oudtshoorn en ‘n kampioendistilleerder, staan bekend as die “stooklegende van die Klein Karoo”. Hy is ook bekend vir die ruimhartige wyse waarop hy sy kennis en ervaring met die bedryf deel.  

 

Dr Johan Marais is een van Suid-Afrika se legendariese navorsers wie se waardevolle werk by die Landbounavorsingsraad (LNR) Nietvoorbij bygedra het tot die produksie van sauvignon blanc-, chenin blanc- en pinotage-wyne van hoë gehalte. Oor ‘n periode van dertig jaar het hy op verskeie wynkomitees gedien, meer as 100 wetenskaplike artikels gepubliseer en ‘n bydrae gelewer by talle internasionale konferensies. 

 

Boet Jonker is die afgetrede besturende direkteur en uitvoerende voorsitter van die Mooiuitsig-groep van Robertson wat wynplase, ‘n kelder, ‘n groothandel-wynmaatskappy en drankwinkels insluit. Jonker het sedert 1947 op verskeie wynverwante komitees gedien.

 

As een van die land se grootste privaatwynboere, vorige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting en lid van die KWV se direksie vir baie jare, is Bertie van der Merwe se impak op die wyn- en brandewynbedryf blywendHy het ook op talle organisasies in die Worcester-omgewing tot voordeel van die gemeenskap gedien. Sy entoesiasme en eindelose energie dien as inspirasie vir ander in die bedryf. 

 

Dr Eben Archer, ‘n bekende akademikus, wingerdboukundige en navorser verbonde aan die Nietvoorbij-navorsingsinstituut en die Universiteit van Stellenbosch vir talle jare, het oor ‘n tydperk van byna veertig jaar die vorming van die land se wynbedryf insiggewend beïnvloed. Hy tree ook op as konsultant vir die wynbedryf in Suid-Afrika, Argentinië, Chili, Kalifornië en Frankryk. Voorts was hy betrokke by die wetenskaplike beplanning en ontwikkeling van meer as 40 Suid-Afrikaanse wynplase. 

 

Dr Danie Joubert het sy merk op die wynbedryf gemaak gedurende vier dekades by Elsenburg se wingerd- en wynbou-afdelings. Sy aandeel in die skep van die keldertegnologie-diplomakursus wat die volle spektrum van die vereiste opleiding van wynmakers en wingerdboukundiges dek, is onontbeerlik.  Hy is ook vereer vir sy rol as dosent en sy navorsing oor gisrasse en wortelswamme.

 

“Deur aan mense op hierdie wyse erkenning te gee, sê die SANWSV dankie aan dié manne en vroue wat onvermoeid en passievol gewerk het aan die bevordering van ons bedryf,” sê Bayly. 

 

Die ontvangers van hierdie eerbewys het ‘n spesiaal ontwerpte gedenkrol ontvang. 

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram