Twee van Neethlingshof se wyne het pas hoë onderskeidings behaal. Die landgoed se enkelwingerd- Sauvignon Blanc van die 2012-oesjaar was onder die wenners van vanjaar se FNB Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie terwyl sy edellaatoeswyn, The Maria, ook van die 2012-oesjaar, pas 'n goue medalje op die internasionale Michelangelo-kompetisie verwerf het.
The Maria, wat deel vorm van die landgoed se eksklusiewe Short Story Collection-reeks, was onlangs ook in die nuus toe die 2011-weergawe daarvan die nasionale kategorietoekenning in die Novare SA Terroir-wyntoekennings ontvang het en die wyn ingesluit is in die goudklas van die Suid-Afrikaanse Wynindeks (SAWI) se jaarlikse gradering.
Dieselfde wyn het ook vroeër vanjaar 92 punte uit 'n moontlike 100 behaal in 'n verslag oor Suid-Afrikaanse soetwyne in die International Wine Review, wat algemeen aanvaar word as een van die wêreld se voorste meningsvormers oor wyn.
Die Neethlingshof Single-Vineyard Sauvignon Blanc word net in uitsonderlike jare gemaak en dan slegs in klein hoeveelhede. Die druiwe daarvoor kom van 'n wingerd van 4 ha wat teen 'n suidelike helling lê en in die laat-somer die koel seebriese vanaf Valsbaai kry. Die druiwe word nie gepars nie, maar die sap sagkens uitgedruk in die teenwoordigheid van koolsuurgas om enige moontlike oksidasie te vermy.
Hierdie wingerd is een van nege sauvignon blanc-blokke op Neethlingshof. Die wynmaker, De Wet Viljoen, versny die wyn verkry van agt van hierdie blokke in die landgoed se gewilde maar terselfdertyd komplekse sauvignon blanc in sy Premium-reeks. “Die negende wingerd lewer druiwe van so 'n uitsonderlike karakter dat ek besluit het om die wyn daarvan afsonderlik te botteleer,” het hy gesê.
The Maria is 'n versnit van weisser riesling en sauvignon blanc. Die stokke van albei wingerde waarvan die druiwe kom, is ouer as 25 jaar en lewer slegs twee tot drie ton per hektaar. Die druiwe word elke jaar spontaanweg met edelvrot besmet danksy die spore wat in die wingerde agterbly.
Albei wyne is by voorste drankwinkels en op die landgoed beskikbaar en verkoop vir sowat R125 in die geval van The Maria 2012 en R65 in die geval van die Single-Vineyard Sauvignon Blanc 2012.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast