Die nuus dat Neethlingshof op vanjaar se SA Jongwynskou die gesogte, goue Agri-Expo-trofee vir die beste houtverouderde edele laatoeswyn gewen het, val saam met die vrystelling van die landgoed se 2010- Short Story Collection The Maria, waarvan slegs ’n beperkte hoeveelheid beskikbaar is.
Dié kampioenwyn kom uit dieselfde wingerd as die enkelwingerd-spesialiswyn van handgeplukte druiwe uit die landgoed se Weisser on the Hill-blok, met ’n suidaansig en sonder besproeiing, en is op presies dieselfde manier tot wyn gemaak.
Die nuwe vrystelling van The Maria is ligter en het ’n eleganter profiel as sy voorgangers, sê De Wet Viljoen, die wynmaker, maar toon dieselfde eienskappe as die vorige oesjare, naamlik tikkies vrugtekoek, droë appelkose en perskes, asook heuning. “Dis rustiger as voorheen, maar met ’n sjarmante subtiliteit wat die mond streel.”
Die minder uitgesproke profiel is aan die oesjaar te danke, sê hy. “Daar was minder Botrytis cinerea (edelvrot) as in vorige jare. Ons is nogtans baie tevrede met die keurigheid van die wyn, wat gestruktureer is om ’n dekade of langer te hou. Ek sien persoonlik daarna uit om dop te hou hoe dit in die volgende vyf jaar of wat nuwe diepte en kompleksiteit bykry.
“Die fris surigheid is ’n heerlike teenvoeter vir die ryk nektar-agtige soetigheid. Omdat die botrytis-karakter effens meer gedemp as vorige oesjare is, is dit ’n selfs veelsydiger metgesel vir kos. Ek geniet dit met wildsvleis-terrien, hoender- of eendlewerpatee, bloukaas en natuurlik nageregte met vrugte.”
The Maria se naam kom van Maria Magdalena Marais, die vindingryke en vurige jong weduwee wat die opstal op dié eiendom naby Stellenbosch na die dood van haar man, Charles, in 1813 klaar gebou het. Die plaas se naam is van die oorspronklike Wolwedans na Neethlingshof verander toe haar dogter, Anna Margaretha, met Johannes Henoch Neethling getrou het.
Die wyn word teen ongeveer R120 in bottels van 375 ml verkoop, en is by die landgoed in Stellenbosch, asook gekeurde afsetpunte orals in die land te kry.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast