Die keurpaneel van die heel eerste Top 100 SA Wines-versameling het die 2009-oesjaar van Neethlingshof se Short Story Collection The Owl Post Pinotage, met ’n beperkte oplaag, as een van die 100 beste wyne in Suid-Afrika aangewys.
Die gedagte om die land se beste wyne byeen te bring om Suid-Afrika se wyn-uitnemendheid te beklemtoon, en vir wynliefhebbers orals te wêreld ’n gesaghebbende verwysingsraamwerk te skep, is deur die plaaslike ondernemer, Robin von Holdt, bedink. Die Britse wynresensent, Tim Atkin (MW), was die voorsitter van die beoordelingspaneel van vermaarde kenners wat ook vir Greg Sherwood (MW) en Jamie Goode, wat ook in die VK gesetel is, asook Jennifer Simonette-Bryan (MW) van die VSA, Sam Haroop (MW) van Nieu-Seeland, en die Suid-Afrikaner Cathy van Zyl (MW) ingesluit het. Ander paneellede was die plaaslike wynmakers Duncan Savage van Cape Point Vineyards, Richard Kershaw van Mulderbosch, en die internasionaal opgeleide sommelier, Guy Harcourt-Wood, wat tans ’n lid van die Great Domaines-span is.
Die wyne wat die lys gehaal het, verskyn in die eerste uitgawe van die Top 100 SA Wines-verbruikersgids, wat ook proe- en kelderaantekeninge bevat.
The Owl House is sterk, maar soepel en ingetoë, en kom uit ’n enkele droëlandwingerd wat 120 m bo seevlak teen hellings met ’n noordwestelike aansig groei. Die wingerde, wat in 1997 aangeplant is, lewer net 6 ton per hektaar en het nou volwassenheid bereik met druiwe wat ’n uitsonderlike gekonsentreerde smaak oplewer.
Die wyn is 14 maande lank in vate van ’n kombinasie van Hongaarse en Amerikaanse eikehout verouder, en die ryk en vol kersie- en bessiesmake word deur ferm tannien in balans gehou, sê De Wet Viljoen, die wynmaker. “Ons het die sterk druiwesmaak versigtig met hout getem om balans en elegansie te skep.”
Viljoen is besonder geheg aan hierdie inheemse kultivar en is die ondervoorsitter van die Pinotage-vereniging. “Ek voel besonder trots daarop dat pinotage in die versameling opgeneem is.”
The Owl Post se naam kom van die uilpale wat orals op dié Stellenbosse landgoed strategies in die wingerde opgerig is en deel van sy geïntegreerde plaagbeheer-bestuursprogram uitmaak. Neethlingshof is ’n lid van die Biodiversiteit & Wyn-inisiatief (BWI) en het as deel van sy bevordering van sy volhoubaarheid- en bewaringsprogram inheemse plantegroei weer op die landgoed laat posvat. Rooikatte en ander diere het gevolglik weer teruggekom.
Die plaaslike kleinhandelsprys van die wyn is ongeveer R137 per bottel, en dit is landwyd by gekeurde afsetpunte te kry.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast