Toe Razvan Macici, ’n jong Roemeense wynmaker, in 2001 na slegs drie jaar se wynmaakervaring in Suid-Afrika as keldermeester op Nederburg aangestel is, het hy geweet dat daar uit die staanspoor druk op hom sou wees om te presteer. Daar sou nie net van hom verwag word om Nederburg se bekroonde tradisie voort te sit wat deur die legendariese Günter Brözel gevestig is nie, maar hy wou ook aan sy vader, Mihai Macici, bewys dat hy die familienaam, wat so nou gekoppel is aan Roemenië se gul dessertwyne, kon hoog hou.
Vandag, tien oesjare later, het Razvan in albei doelwitte geslaag. Hy is veral trots daarop dat hy hulde kan bring aan sy vader deur sommige van sy beste edellaatoeswyne op vanjaar se Nederburg-veiling ten toon te stel langs sommige van sy vermaarde voorganger.
Die 2004- en 2005-oesjare van sy Edelkeur, albei met geure van appelkoos, heuning en sitrus, bevind hulself in dieselfde uitgelese geselskap as Brözel se 1977-oesjaar van hierdie vlagskip-dessertwyn wat 30 jaar later as een van die tien beste wyne op die 2007 International Botrytis Type Wine & Sweet Wine Competition in Boedapest, Hongarye, aangewys is. Dit was die enigste wyn buite Europa wat hierdie eer te beurt geval het.
Hierdie wyne kom almal op die eerste Saterdag in September op Nederburg onder die hamer van Bonham se afslaer, Anthony Barne, tesame met die 2003 Eminence, nog ’n weelderige dessertwyn van Nederburg; Macici se eerste Private Bin S316 Weisser Riesling Noble Late Harvest wat dateer van 2001; en sy 2002 Semillon Noble Late Harvest.
Terwyl hierdie wyne ’n toonbeeld is van sy vermoë om ’n verskeidenheid van edellaatoeswyne te maak, elk met 'n eie karakter, weerspieël hulle slegs een aspek van sy veelsydigheid. Vanjaar se veiling bied ook verskeie rooiwyne van sy eerste oesjaar op Nederburg, insluitende die Private Bin R172 Pinotage, ’n elegante wyn met kersie- en pruimgeure; die Private Bin Petit Verdot, ’n wyn wat ontplof met geure van rooi vrugte en ’n titsel neutmuskaat; die Private Bin R121 Shiraz, steeds ryk en speseryagtig; en die Private Bin R181 Merlot, met sappige bessie-, koffie- en speserygeure.
Hierdie wyne sit die meervlakkige reputasie vir uitnemendheid voort wat deur Brözel daargestel is en wat steeds duidelik sigbaar is in die 1985 Paarl Cabernet Sauvignon wat ook op die veiling sal wees.
Ander hoogtepunte vanjaar sluit in Nederburg se suksesvolle enkelwingerd- sauvignon blanc-wyne: die 2007 Private Bin D215 afkomstig is van droëlandwingerde by Durbanville en ’n kombinasie van tropiese en mineraalgeure bied, en die 2007- en 2008-oesjare van die Private Bin D234, afkomstig uit ’n wingerd in die Groenekloof-wyk met fris, pikante, kruidagtige geure. Die 2007 Private Bin D270 Chardonnay toon Macici se totale beheersing in sy klassieke, netjiese stilering.
Versamelaars sal bly wees oor die nuus dat die enigste port wat Brözel op Nederburg gemaak het, ook op die veiling verkoop sal word. Die port, met sy ryk en fluweelagtige tekstuur, is na 46 jaar steeds in ’n uitstekende toestand. Elke bottel is individueel genommer en met ’n lagie was verseël.
Lotgroottes verskil om in spesialisbehoeftes sowel as in die behoeftes van grootmaat-kopers te voorsien.
Besonderhede van hierdie en ander wyne van Nederburg op vanjaar se veiling kan van Julie af gevind word in die katalogus of by www.nederburgauction.co.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast