Nederburg skud sy vere reg vir 2010

Date posted:
June 18, 2009

FIFA het 'n ooreenkoms met Distell gesluit ingevolge waarvan laasgenoemde Amarula en 'n reeks spesiaal geskepte Nederburg-wyne vir die 2010 FIFA-wêreldbeker™ in Suid-Afrika sal bemark.

 

Amarula is Suid-Afrika se likeur wat die meeste uitgevoer word en is by die International Wine & Spirit Competition as die wêreld se beste roomlikeur aangewys.

 

Bo regs: Rudolph du Toit (bemarkingsbestuurder), De-Mari Kellerman (handelsmerkbestuurder), Jan Scannell (Distell se besturende direkteur) en Werner Swanepoel (groepbemarkingsbestuurder vir likeurs).

 

Razvan Macici, Nederburg se bekende keldermeester, het ’n reeks van drie wyne spesiaal vir volgende jaar se toernooi geskep. Hulle sal plaaslik en in die buiteland verkoop word. Die drie wyne, waarvan net beperkte hoeveelhede gemaak is, is ’n cabernet sauvignon, ’n droë rosé en ’n sauvignon blanc.

 

Links: Razvan Macici, keldermeester, en Tariro Masayiti, witwynmaker, beoefen hul sokkertalent in die kelder op Nederburg. Hou maar by wat julle goed kan doen, manne!

 

Amarula en Nederburg het onlangs van die SA Superbrands Council superhandelsmerkstatus in Suid-Afrika ontvang. Daarmee is erkenning gegee aan hul markoorheersing en hul algehele markaanvaarding, asook vir hul langslewendheid en die welwillendheid en kliëntelojaliteit wat hulle ontlok.

 

Rudolph du Toit, Nederburg se bemarkingsbestuurder, het gesê as deel van die opwindende aanloop tot die toernooi gaan die wyne wêreldwyd bekend gestel word.

 

“Ons eerste prioriteit is markte waar sokker 'n groot aanhang het, maar ons sal ons deur die vraag laat lei.”

 

Die wyne, in bottels van deels-herwonne glas, sal in die tweede helfte van vanjaar plaaslik bekend gestel word en sal tot Desember 2010 bemark word. Die wit- en rosé-wyne sal ’n skroefdop hê.

 

Macici het gesê die drie wyne, wat die oesjare 2007 tot 2010 sal dek, is vir hul breë aanvaarbaarheid gekies, maar word desondanks in kleiner hoeveelhede as Nederburg se gewilde Winemaster’s Reserve-reeks gemaak omdat slegs die druiwe van baie spesifieke plaaslike wingerde daarvoor gebruik sal word.

 

“Die drie wyne wat die embleem van die 2010 FIFA-wêreldbeker™ sal dra, weerspieël Nederburg se kenmerkende kombinasie van vrugtigheid en finesse. Hulle is terselfdertyd intens en elegant, en uitgesproke Suid-Afrikaans hierin dat die intense vrugtigheid deur ’n beheerste klassieke styl gebalanseer word. Hulle is fris en toeganklik, en ideaal saam met kos. Gegewe ons assosiasie met so 'n belangrike sportinisiatief, wil ons hê hulle moet toonbeelde van Suid-Afrikaanse voortreflikheid wees.”

 

Regs: En so lyk een van die bottels met wyn wat spesiaal vir die groot sokker gemaak is.

 

Die rugetiket van elk van die 2010 FIFA- wêreldbeker™-wyne sal dit vir verbruikers moontlik maak om oombliklik toegang tot inligting oor Nederburg te bekom deur met hul selfoonkameras op 'n unieke QR-kode te kliek. Die gevraagde inligting sal dan op hul selfoonskerms verskyn.

 

Die wyne sal by gekeurde handelaars beskikbaar wees asook van Nederburg self.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram