Nederburg het sy eerste goue medalje van die jaar op die 2010- Berliner Wein-trofeetoekennings ingepalm vir ’n 2009- Cabernet Sauvignon. Dit het ook 'n silwer medalje vir ‘n 2009- Sauvignon Blanc ingepalm. Albei dié wyne word in Suid-Afrika as deel van die reeks Winemaster’s Collection Reserve-reeks verkoop.
Die kompetisie, wat by die OIV (Organisation Internationale de la Vigne et du Vin) geakkrediteer is, is een van die voorste internasionale gebeure van sy soort in Duitsland, een van Nederburg se belangrikste uitvoermarkte.
Die wynmakery, wat verlede jaar op die International Wine & Spirit Competition in Londen as Suid-Afrika se suksesvolste produsent aangewys is, en wat op die Ou Mutual-trofeewynskou van 2009 as die toppresteerder bekroon is, laat sy teenwoordigheid geleidelik ook in ander lande geld. Buiten Europa en Afrika word die Amerikas en deel van Asië in die visier gestel namate wynliefhebbers 'n al sterker voorkeur vir die wyne wat Razvan Macici, die keldermeester, en sy kollegas Tariro Masayato en Wilhelm Pienaar toon.
Rudolph du Toit, Nederburg se bemarkingsbestuurder, sê sedert die ooreenkoms verlede jaar met FIFA ingevolge waarvan die wynmakery ’n reeks spesiale wyne met die oog op die 2010 FIFA-wêreldbeker kan bemark, het die handelsmerk die belangstelling van sokkergeesdriftiges, ’n splinternuwe mark vir Nederburg, gaande gemaak.
Links: Die Sauvignon Blanc 2009 wat 'n silwer medalje ingepalm het.
Die drie wyne wat in beperkte volumes vir die sokkertoernooi geskep is - ’n cabernet sauvignon, ’n sauvignon blanc en ’n droë rosé - verkoop reeds goed in sommige buitelandse markte. Die gewildste bestemming vir die drie wyne met hul spesiale etikette met die FIFA-kenteken op is Finland, met Brasilië, Nederland, Kanada, Japan en Duitsland kort op sy hakke.
Du Toit gesê Nederburg se verbintenis met die spel gee hom toegang tot baie wynliefhebbers wat sy wyne nie vantevore geken het nie.
“Gelukkig gee ons talle toekennings hierdie wynliefhebbers 'n verdere rede om ons veelsydige wyne op die proef te stel, hetsy op hul eie vir hul uitgesproke vrugtigheid en elegansie, of saam met kos.
“Ons is besonder trots wanneer wyn uit ons gewilde reekse beloon word want dit bewys maar net weer dat Nederburg oor sy hele produkreeks heen gehalte voorop stel.”
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast