Nederburg se Razvan Macici is Diners Club se Wynmaker van die Jaar

Date posted:
November 8, 2012

Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, is as Diners Club se Wynmaker van die Jaar vir 2012 bekroon. Hy sê dié titel is een van die grootste prestasies van sy loopbaan.

 

Vanjaar is die eerste keer dat hy deelgeneem het aan die kompetisie wat elke jaar ’n bepaalde kultivar of wynstyl as ’n enkele inskrywingskategorie kies. Dit is die enigste kompetisie van dié aard, en word vanjaar vir die 32ste keer aangebied. Soetwyn was nog nooit tevore ’n kompetisiekategorie nie.

 

Met sy triomf keer die Diners Club-titel ná bykans 30 jaar vir ’n derde keer na Nederburg terug. Günter Brözel het dit voorheen in 1983 vir riesling gewen, en weer in 1985 vir gewürztraminer.

 

Vanjaar was Nederburg se Private Bin Eminence 2007 die wyn met die meeste punte. Dié wyn word nét vir verkoop tydens die Nederburg-veiling gemaak. Macici het ook die hoogste lof vir twee ander wyne gekry, naamlik die 2010- en 2011-oesjare van die Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest. Albei dié wyne het vyf sterre in Platter’s South African Wine Guide gekry.

 

Verlede jaar is die 2009-oesjaar van die Eminence by die 2011 Five Nations Wine Challenge in Sydney as wyn van die skou aangewys. Produsente van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië, Argentinië en Chili neem aan dié kompetisie deel. Dit het ook die trofee vir die beste soetwyn omhoog gehou as die wyn in sy klas met die meeste punte uit alle inskrywings van die suidelike halfrond. Die 2008-oesjaar van die wyn het by die kompetisie in Sydney ’n goue medalje verower.

 

Vroeër het dit by die 2011 Ou Mutualtrofee-wynskou 96 punte verdien en die trofee vir die beste ongefortifiseerde soetwyn huis toe gebring. Boonop was dit by die 2011 Muscats du Monde in Frankryk een van die tien beste wyne.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram