Nederburg presteer weer op Veritas

Date posted:
October 11, 2010

Nederburg het 43 medaljes, waaronder drie dubbelgoues en vier goues, op die 2010- Veritas-toekennings ingepalm en sodoende vir die tweede agtereenvolgende jaar die tweede plek ingeneem. Spier het die eerste plek gevat.

 

Nederburg was met sowel hul wyn as hul potketelbrandewyn in die kollig. Die wynmakery se 1977 Edelkeur, 2003 Private Bin D266 Sémillon en 2008 Private Bin Eminence, wat ’n silwer medalje op vanjaar se International Wine Challenge (IWC) in London gewen het, het dubbelgoue medaljes ingepalm.

 

Goue medales is toegeken aan Nederburg se 2010 Private Bin D234 Sauvignon Blanc, 2009 Private Bin D252 Sauvignon Blanc/Sémillon en 2009 Private Bin Eminence, wat vanjaar ook goud gewen het op die Muscats du Monde in Frankryk en ’n Grand d’Or-medalje op die 2010 Michelangelo International Wine Awards.

 

Nederburg Solera Potstill Brandy het ook ’n goue medalje gebuit. Brandewyn is vanjaar vir die eerste keer saam met byna 1 700 wyne van sowat 300 produsente uitgenooi om aan Veritas deel te neem.

 

Silwer medaljes is aan 21 Nederburg-wyne toegeken, terwyl 15 wyne uit die hierdie bekende stal brons medaljes gewen het.

 

Nederburg se vermaarde keldermeester, Razvan Macici, sê: “Ek’s verheug oor die lof wat ons wyne regoor die spektrum ontvang het. Ek beskou die Veritas-toekennings as ’n goeie aanduiding van die huidige stand van ons wyne aangesien dit die areas waarin ons uitstekend is, onderstreep en dié waar ons kan verbeter, uitwys. Ek wil die lede van ons span, van diegene in die wingerd tot daardie mense in die kelder, bedank vir hul harde werk en toewyding.”

 

Veritas, die “Oscars” van wynkompetisies, vier vanjaar twee dekades as Suid-Afrika se voorste en mees gerespekteerde kompetisie vir markklaarwyne.

 

Die Veritas-toekennings gee erkenning aan wyne en brandewyne van buitengewone gehalte en die kenmerkende Veritas-simbool van uitnemendheid dien as gesaghebbende gehalteriglyn vir wynliefhebbers en -kenners.

 

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram