Nederburg hoor ‘soet woorde’ uit Frankryk

Date posted:
July 23, 2010

Nederburg was die toppresteerder by vanjaar se Muscats du Monde wat in Frontignan-la-Peyrade in die Languedoc-Roussillon-streek van Frankryk aangebied is en 55 internasionale beoordelaars betrek het. Die 2007- Private Bin Eminence van hierdie bekende wynplaas was die beste uit tien deelnemers en het ook een van net twee Grand d’Or-toekennings ontvang. Die kompetisie het meer as 200 spesialisinskrywings uit 23 lande ontvang.

 

Die wyn word van muscat frontignac gemaak en is ’n aromatise, natuurlike soetwyn met ’n elegante styl en tikkies appelkoos, sitrus en jasmyn, asook ’n lewendige suur. Dit is net tydens die Nederburg-veiling te koop.

 

Die 2009-oesjaar van die Eminence het tydens die kompetisie ’n goue medalje verower en was een van drie Suid-Afrikaanse goue medalje-wenners.

 

Dé-Mari Kellerman, Nederburg se handelsmerkbestuurder, sê: “Muscats du Monde is ’n toonkamer vir die talle maniere waarop muscat-wyne hulle kan uitdruk, en sluit sowel natuurlike as gefortifiseerde wyne in. Die feit dat ons naas sommige van die topname in Europa beoordeel is, en sulke bekronings ontvang het, dien as sterk bekragtiging vir Nederburg asook die wynmakers, Razvan Macici en Tariro Masayiti. Dit versterk Nederburg se reputasie vir uitnemendheid wat soetwyn betref.”

 

’n Paar weke gelede het Nederburg se 2009-oesjaar van die Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest ’n trofee tydens die International Wine Challenge in Londen verower.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram