Pas nadat Nederburg Amerikaners oorrompel het met die drie wyne wat geskep is om Suid-Afrika se aanbieding van die 2010 FIFA-wêreldbeker te gedenk, het hy ’n mosie van vertroue van die vooraanstaande Amerikaanse wyntydskrif, Wine Enthusiast, gekry in die kategorie “bestewaardewyne vir die jaar”.
Nederburg se 2009 Winemaster’s Reserve Sauvignon Blanc verskyn op die lys van “100 Beste Wynkopies vir 2010” wat in die November-uitgawe van die tydskrif gepubliseer word.
Wine Enthusiast maak daarop aanspraak dat hy die wêreld se grootste tydskrif is wat net aan wyn en spiritualieë toegewy is.
“Dié erkenning deur só ’n gesaghebbende bron met só ’n groot reikwydte in die wynhandel en onder gewone wynliefhebbers in Noord-Amerika gee ons ’n groot hupstoot,” sê Lynette Harris, wat pas as die globale bemarkingsbestuurder vir die handelsmerk aangestel is. “Nederburg word hoog gereken in verskeie Europese markte en ons internasionale verkope groei uitstekend. Ons het egter eers taamlik onlangs die Amerikaanse mark betree, maar danksy die verbintenis met die afgelope wêreldbeker en die positiewe reaksie op ons wyne, groei ons daar goed. Dié jongste lof sal help om groter bewustheid te kweek, veral in die huidige ekonomiese klimaat waarin waarde ’n belangrike rol in aankoopgewoontes speel.”
Die Liquor Control Board of Ontario (LCBO), die grootste kleinhandelaar van alkoholiese drank in Kanada, het die wyn onlangs ook as een van sy top 50 waardewyne aangewys.
Harris het gesê verkope in Noord-Amerika styg teen ’n uitstekende koers. Vir die 12 maande tot Julie 2010 was dié groei in dubbelsyfers. Die sauvignon blanc tel onder die gewildste wyne in die reeks en verkope daarvan het feitlik verdubbel, terwyl die Winemaster’s Reserve Cabernet Sauvignon en Shiraz ook baie aftrek kry.
Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, sê die 2009-oesjaar was uitsonderlik vir sauvignon blanc, met vars, aromatiese geure wat opgebou het in druiwe van koelklimaat-areas naby die Atlantiese Oseaan.
“Ons kry die meeste van ons sauvignon blanc van wingerde in dié areas, en pluk meestal voor dagbreek of ná sononder om te sorg dat die druiwe op hul allerbeste by die kelder kom.”
Hy sê die wyn toon ’n lieflike kombinasie van grasagtige en voller tropiese smake, met ’n lewendige, verfrissende varsheid en ’n ryk, afgeronde nasmaak.
Hoewel die wyn meestal gedrink word in die jaar waarin dit gemaak is, het dit ’n kompleksiteit en gewig in die middelmond wat sal sorg dat hy drie tot vyf jaar lank sy man sal kan staan, glo Macici.
Die Winemaster’s Reserve Sauvignon Blanc is ook een van Nederburg se beste verkopers in Suid-Afrika, en die 2010-oesjaar is reeds beskikbaar om aan die plaaslike vraag te voldoen.
“Nes sy voorganger toon dit ’n heerlike en lewendige balans tussen kruidagtige en tropiese smake, met ’n gul en bevredigende tekstuur in die mond.”
Die wyn verkoop in Suid-Afrika teen sowat R45 vir ’n 750ml-bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast