Nederburg haal weer top 10 in Franse kompetisie

Date posted:
July 28, 2009

Nederburg was die enigste Suid-Afrikaanse Wynkelder, en ook die enigste deelnemer uit die Nuwe Wêreld, wat tydens die 2009- Muscats du Monde ’n plek in die boonste tien kon haal.

 

Nederburg se Private Bin Eminence 2007, wat goud verower het, het saam met wyne uit Spanje, Frankryk en Portugal in die kollig gestaan.

 

Dié oesjaar, wat uitsluitlik op die Nederburg-veiling te koop is, kry vier sterre in die huidige uitgawe van Platter’s South African Wine Guide, en word geloof vir sy “geurige frisheid wat aan jasmyntee, appelkose en nartjies herinner”, vir sy “sagte fermheid” en “lieflike vars balans”.

 

Die Muscats du Monde-kompetisie, wat in Frankryk gesetel is, is vanjaar vir die negende keer aangebied en het meer as 200 inskrywings van natuurlike en vonkelwyn uit 24 lande gelok. Daar was 45 beoordelaars. In 2005 het Nederburg se 2002- Eminence ook goud in die sak gesteek.

 

Vroeër vanjaar het die Private Bin Eminence 2008 op die Ou Mutualtrofee-wynskou die trofee vir die beste natuurlike soetwyn in ontvangs geneem, en Nederburg is ook as die suksesvolste produsent op die skou aangewys.

 

Nederburg was onlangs ook die wenner van ’n ander Franse kompetisie, naamlik die Syrah du Monde 2009, waar die 2006- Private Bin R121 Shiraz die hoogste telling gekry het. Dié wyn word ook vir verkoop op die Nederburg-veiling gemaak.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram