Nederburg dra shiraz-kroon

Date posted:
September 3, 2009

Nederburg het met die hoogste louere by vanjaar se Santam Paarl Shiraz-uitdaging weggestap. Hul 2007- Winemakers Reserve Shiraz is as die streek se beste uit 30 aspirant-wyne bekroon. 

 

Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, meen dat dié shiraz vir ‘n besonderse mond-ervaring sorg wat herinner aan ryp pruime en donker sjokolade met ‘n goed gebalanseerde tannienstruktuur.

 

“Geure van ryp vrugte en bessies, kaneel, naeltjies en donker sjokolade is eie aan hierdie ryk, volronde wyn,” sê Macici. Die wyn komplementeer veral Meditterreense disse soos souvlaki en kebabs, of tradisionele swaargewig-vleisgeregte soos beesstert.

 

Charles Hopkins, bekroonde wynmaker van De Grendel-wynlandgoed en deel van die uitgelese paneel van beoordelaars, meen dat vanjaar se Shiraz-inskrywings oor die algemeen beter was as dié van vorige jare. 

 

“Ons is altyd op soek na wyne wat die unieke Paarlse karakter weerspieël, dit wil sê sterk ondertone van speserye, peper of fynbos. Die Nederburg-wenwyn spog definitief met hierdie fynbos- en peperagtigheid wat so eie is aan shiraz wat in warmer gebiede voorkom.”

 

Landskroon Paul de Villiers Shiraz 2007 het die tweede plek geneem, terwyl Rhebokskloof Black Marble Hill Reserve Syrah 2006 in die derde plek geëindig het.

 

Seidelberg-wynlandgoed, wat verlede jaar vir die wen-shiraz gesorg het, het weer eens die monde van die beoordelaars betower – hierdie keer met wynmaker Cerina De Jongh se 2009- Chenin Blanc.

 

“’n Paar faktore het vanjaar eenvoudig saamgewerk om ‘n besonderse wyn te voorskyn te bring,” sê De Jongh. “Die eerste is die natuurelement wat nie beheer kan word nie – die wingerd is vanjaar 30 jaar oud en die seisoen was perfek vir ‘n rypheid wat nie normaalweg verkry word nie. Ons kon die druiwe dus los en ryper as gewoonlik pluk. Dit en die kort gistydperk in Franse eikehout het ‘n balans van vrugtige geure en kompleksiteit gegee wat sorg vir ‘n volheid en lengte in die wyn,” meen Cerina wat die afgelope sewe jaar haar towerstaffie in Seidelberg se kelder swaai.

 

Boland Private Cellar Organic Chenin Blanc 2009 en KWV Chenin Blanc 2009 het onderskeidelik tweede en derde geëindig.

 

Links: Tony Lakey van Val de Vie, wat die trofee vir kelderassistente gewen het.

 

Hoewel die uitdaagstryd die streek se beste wyne vereer, ontvang die onderskeie kelders se kelderassistente ook die nodige erkenning vir die rol wat hulle in die wynmaakproses speel deur middel van ‘n proekompetisie. Uit die rekordgetal van 31 inskrywings het Tony Lakey van Val de Vie die eerste plek verower, terwyl Mervin George van KWV en Jimmy Albertus van Seidelberg kort op sy hakke gevolg het. 

 

Die wenwyne, asook die ander finaliste, kan geproe word by die Persiese Tawla op Vrydag, 25 September, en die “Persië na Paarl”-wynfees op Saterdag, 26 September. Albei hierdie geleenthede word by Nederburg aangebied as deel van die Paarl se Cultivaria-fees.

 

Vir meer besonderhede, besoek www.persiatopaarl.co.za.  

 

Einde 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram