Nederburg het sy posisie as Suid-Afrika se mees bekroonde wynmakery herbevestig deur 'n streekstrofeewenner, twee goue en agt silwer medaljewenners by vanjaar se Decanter World Wine Awards te lewer. Meer as 12 200 wyne is vir die kompetisie, een van die grootste ter wêreld, ingeskryf.
Nederburg se 2010- Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest het die trofee ontvang vir die kompetisie se beste Suid-Afrikaanse soet witwyn wat vir meer as £10 verkoop. Dieselfde wyn het ook by vanjaar se International Wine Challenge (IWC), waarvan die resultate ook pas bekend gemaak is, goud ontvang.
Goue medaljes in die Decanter-kompetisie is ook toegeken aan Nederburg se Winemaster’s Reserve Chenin Blanc van 2009 en aan die 2007- Private Bin Edelkeur. Laasgenoemde word slegs by die jaarlikse Nederburg-veiling verkoop.
Onder die silwer medaljewenners tel die 2009- Nederburg Ingenuity White (wat vyf sterre in die 2011 Platter’s South African Wine Guide ontvang het), die 2010- Nederburg Manor House Sauvignon Blanc, die 2008- Winemaster’s Reserve Edelrood ('n versnit van cabernet sauvignon en merlot) en die 2010- Winemaster’s Reserve Special Late Harvest. Die ander wyne wat silwer gekry het, is almal van die Private Bin-reeks, wat net by die veiling verkoop word.
Nederburg het ook ses silwer medaljes by die IWC ingepalm.
Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, sê hy is verheug oor die feit dat die meeste topwenners tot die Winemaster’s Reserve-reeks behoort.
“Dit bevestig net weer dat ons in staat is om wyne van die hoogste gehalte oor ons hele prysspektrum te produseer.”
Lynette Harris, die wynmakery se globale bemarkingsbestuurder, sê die toekennings weerspieël Nederburg se prestasie in vanjaar se Platters South African Wine Guide wat nie net vyf sterre aan vyf van die wynmakery se wyne toegeken het nie, maar ook aan die ander uiterste van die spektrum een van sy intreevlakwyne, die Foundation Lyric van 2010, as sy lekkerdrinkwyn van jaar aangewys het.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast