Daar is nou nóg ’n rede om saam met familie en vriende by Nederburg in die Paarl te gaan kuier. Die Landgoed se prettige en heerlike “burgermeesterspare” voeg ’n keuse van watertand-miniburgers met ’n oesjaarwyn uit die gewilde en bekroonde Winemaster’s Reserve-reeks saam.
Byvoorbeeld, ’n salmburger met agurkies, sprietuie en ’n skeut vars suurlemoensap smaak vorentoe met Nederburg Winemaster’s Reserve Sauvignon Blanc, en Nederburg Winemaster’s Reserve Riesling word met ’n hoenderborsieburger met gekarameliseerde uie en droë appelkose in spek bedien.
Dan is daar die Nederburg Winemaster’s Reserve Cabernet Sauvignon saam met ’n tradisionele biefburger en tamatie, rooi Leicester-kaas en vars kruie. Die bobotieburger met die Nederburg Winemaster’s Reserve Pinotage is eg Suid-Afrikaans. Die Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest – die soetwyn op internasionale en plaaslike beoordelaars se lippe – word met ’n heerlike “burger” van Parma-ham, bloukaas en groenvye bedien.
Die “burgermeesterspare” is net by Nederburg se besoekersentrum te kry en kos R85 per kop. Groter groepe moet liefs vooraf bespreek. Die wyn-en-burgerpare sal elke nou en dan verander sodat dit vars, interessant en opwindend bly.
Nederburg bied besoekers die hele jaar deur verskeie ervarings, van keldertoere tot wynproegeleenthede, kos-en-wynpare, fynproewery en seisoensgebeure soos oesdagfeeste en opvoerings. Val gerus enige tyd in vir ’n kaasbord saam met Nederburg se heerlike wyn, of om brandewyn, koffie en biscotti te proe, of om bloot in die ou kelder met sy boeiende tydlyn van 1791 tot vandag ’n bietjie geskiedenis in te drink.
Gaan na www.nederburg.co.za of die wynmakery se Faceboek-blad, of skakel (021) 862-3104 vir meer besonderhede oor konserte, vierings en ander spesiale geleenthede.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast