Die vooraanstaande Kanadese wynresensent, bekroonde skrywer en sommelier, Natalie MacLean, wie se NatDecants-blog ’n wêreldwye gehoor het, prys twee Nederburg-wyne van die Winemaster’s Reserve-versameling, naamlik die Shiraz 2007 en die Sauvignon Blanc 2008 wat nou in Noord-Amerika aangebied word.
Sy noem die Shiraz “glad en heerlik” en hou van die “geroosterde eikehout- en swart vrugte-neus met ’n ryk mondgevoel van ryp swartbessies, cassis en pruime”. Sy sê die Sauvignon Blanc se “grasagtige heilsaamheid vul die glas en gee jou volledige verfrissing met elke teug”.
MacLean se lesers is hoofsaaklik in die VSA gesetel, maar sy skryf ook rubrieke vir talle internasionale wyn-, reis- en leefstylpublikasies. Sy het ’n Gourmand World Cookbook-toekenning ontvang vir haar gewilde Red, White and Drunk All Over, en het die glansryke James Beard Foundation Journalism Award reeds vier maal verower.
“Ons is altyd bly as ons wêreldwye erkenning kry. Dit bied nuttige rigting aan wynliefhebbers en help hulle om te kies uit die talle moontlikhede wat daar vir hulle beskikbaar is,” sê Rudolph du Toit, Nederburg se bemarkingsbestuurder. “Mense wil nou meer as ooit waarde hê, en ’n mens meet dít nie net aan die prys nie, maar ook aan die gehalte wat jy kry. Dit is waarom Nederburg steeds meer gewild word, en waarom dit selfs in wynproduserende lande soos Australië en Nieu-Seeland steeds so goed vaar.”
Plaaslike wynkleinhandelaars het albei wyne in voorraad. Die Shiraz se kleinhandelprys is ongeveer R60 per bottel, en dié van die Sauvignon Blanc ongeveer R45.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast