Nederburg aangewys as top-presteerder, twee keer in een week!

Date posted:
June 7, 2009

In dieselfde week dat Nederburg aangewys is as die suksesvolste produsent by die Ou Mutual Trofee-wynskou van 2009, het dié wynmakery ook uitstekend gevaar by die 2009 Syrah du Monde. Die wyn wat die hoogste telling in dié kompetisie in Ampuis, Frankryk, behaal het, is Nederburg se Private Bin R121 Shiraz 2006, spesiaal gemaak vir verkoop op die Nederburg-veiling.

 

Dié wyn was een van slegs twee van Suid-Afrika wat die lys van die top tien wyne gehaal het, ? lys wat deur Franse inskrywings oorheers is. Net 35 goue medaljes is toegeken nadat die beoordeelaars hul weg deur sowat 400 wyne uit 27 lande geproe het.

 

Terwyl Nederburg aanhou bou aan sy globale reputasie vir dessertwyne, fokus Razvan Macici en sy span ook op die uitbreiding van hul internasionale reputasie vir shiraz. Vroeër vanjaar het die Manor House Shiraz 2007 goud verower by die Berliner Wein-skou. 

 

Die Manor House Shiraz 2005 is op sy beurt op die 2007 International Wine & Spirits Competition in Londen as die wêreld se beste interpretasie van hierdie kultivar aangewys. Daarmee het dit die gesogte Rosemount-trofee, wat gewoonlik deur die Australianers gewen word, huis toe gebring. Dieselfde wyn het ook ’n goue medalje by die heel eerste Syrah du Monde in Frankryk en by MUNDUSVini in Duitsland verower.

 

Verlede jaar het die Winemaster’s Reserve Shiraz 2006 die 2008 Lexus Shiraz Challenge, wat in oorleg met die tydskrif WINE aangebied word, gewen.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram