Nedbank hernu borgskap van Kaapse Wynmakersgilde, Stellenbosch-wynroete kry nuwe voorsitter

Nedbank het sy borgskap van die Kaapse Wynmakersgilde tot 2020 verleng. Die bank is reeds sedert 1995 ’n trotse ondersteuner van die gilde en speel ’n belangrike rol in die gilde se jaarlikse veiling, sowel as in verskeie ontwikkelingprogramme van die Kaapse Wynmakersgilde se Ontwikkelingstrust.

 

“By Nedbank is ons trots daarop om ons ondersteuning van die Kaapse Wynmakersgilde én die positiewe reis tot transformasie van ’n nuwe generasie Suid-Afrikaanse wynmakers en wingerdboukundiges deur die gilde se Protégé-program voort te sit,’ sê Tobie Badenhorst, Hoof van Groepborgskappe en Bemarking van die Nedbank-groep.

 

Die Ontwikkelingstrust is in 1999 gestig as ‘n gesamentlike sosiale beleggingsinisiatief. Bo en behalwe Nedbank se ondersteuning, word fondse ook ingesamel by verskeie gilde-geleenthede deur die loop van die jaar, insluitend die jaarlikse veiling van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde.

 

Die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program, wat in 2006 van stapel gestuur is, is vandag een van die suksesvolste ontwikkelingprogramme in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Met die doel voor oë om transformasie in die wynbedryf te bewerkstellig, het altesaam 24 talentvolle wynmakers en wingerdboukundiges reeds aan die program deelgeneem en die geleentheid aangegryp om sy aan sy met lede van die gilde te werk. Die program het reeds 17 protégés opgelewer wat belowende loopbane in die wynbedryf beklee – van privaat wynlandgoedere tot groot korporatiewe besighede.

 

Intussen het die direksie van die Stellenbosch-wynroete aangekondig dat Mike Ratcliffe (regs) sy nuwe voorsitter is. Hy neem die leisels oor by Kobus Basson. Altesaam vier bykomende lede is ook tot die direksie verkies.

 

“Ek is trots en verheug om die leisels en verantwoordelikhede oor te neem van hierdie gevestigde en geskiedkundige organisasie,” sê Ratcliffe. “Ek sien uit daarna om nou saam te werk met ’n doelgerigte en suksesvolle direksie om Stellenbosch se wyn en die wynroete tot nuwe hoogtes te voer.  Ons staan op die skouers van reuse.”

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>