Nebbiolo is koning by Du Toitskloof-Wyne

Date posted:
October 12, 2011

Du Toitskloof-Wyne se Dimension Nebbiolo 2009, wat onlangs goud los geslaan het op MUNDUSvini in Duitsland en silwer op vanjaar se Veritas-wyntoekennings, is ’n uiters kosvriendelike wyn wat goed pas by vleisgeregte soos filet-biefstuk, varknek en braaivleis. Die wyn se ryk, vrugtige boeket pas ook goed by ’n verskeidenheid sterk gegeurde kase en pastadisse.

 

Nebbiolo, bekend as die koning van die wingerde in Noord-Italië, ontleen sy naam aan die Italiaanse woord vir mis, naamlik nebbia. Die mistige oggende langs die Breërivier, wat baie herrinner aan die omgewing waar hierdie bekende kultivar meestal verbou word in Italië, pas nebbiolo soos ‘n handskoen. Omdat slegs vyf wynkelders in Suid-Afrika ’n nebbiolo maak, is die 2009-oesjaar van die Du Toitskloof Dimension Nebbiolo ’n buitengewone wyn wat wynliefhebbers eenvoudig móét probeer.

 

Die druiwe vir hierdie wyn kom vanaf die plaas Dagbreek op die oewer van die Breërivier ’n paar kilometer van die kelder af. Slegs 20 ton druiwe is uit ’n enkele wingerd gepluk, gepars en vir drie dae op die doppe gelos om die maksimum kleur en geur te onttrek. Na gisting is ’n klein hoeveelheid van die geparsde wyn versny met die wyn wat van die vryloopsap gemaak is om bykomende diepte te gee voordat dit vir 10 maande in Franse eikehout verouder is.

 

Du Toitskloof-Wyne is geleë by die ingang tot die bekende Du Toitskloofpas  sowat 90 km van Kaapstad af. Die kelder het reeds ’n reputasie vir wyn van gehalte teen hoogs mededingende pryse opgebou en het die Best Value Cellar-toekenning in die tydskrif WINE se jaarlikse Best Value Wine Guide Competiton reeds vier keer gewen.

 

Die Du Toitskloof Dimension Nebbiolo 2009 is by uitgesoekte drankhandelaars, asook by die kelder self, beskikbaar en kos sowat R74 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram