Namaqua verras met ‘goedkoop goud’ op Veritas

Date posted:
October 12, 2010

Die vraag of waarde vir geld en gehalte in dieselfde wyn moontlik is, is finaal op die pasafgelope Veritas-toekennings ter ruste gelê toe ’n sauvignon blanc van slegs R25 vanuit die Weskus-wynstreek ‘n goue medalje los geslaan het. Die wyn is van die 2010-oesjaar en is deur Namaqua Kelder op Vredendal ingeskryf.

“Ons is absoluut oorstelp van vreugde, nie net omdat ons ‘n goue medalje gewen het nie, maar ook omdat dit wys dat ‘n goedkoop wyn ook ‘n goeie wyn kan wees,” het Len Knoetze, Voorsitter van die Weskus-wynroete en Produksiebestuurder by Namaqua Wines, gesê, “ en dat wyn van gehalte in elke wynstreek van Suid-Afrika gemaak word. En natuurlik is ons baie trots op die goud. Dis wonderlike erkenning vir al ons harde werk in sowel die wingerd as die kelder.”

Die Weskus-wynstreek het altesaam 21 medaljes op die 2010- Veritas-toekennings ingepalm. Onder die sewe wenners van silwer medaljes is die Klawer Birdfield Sauvignon Blanc 2010, die Spencer Bay Winemaker’s Reserve Cabernet Sauvignon 2007 en die Bellpost Merlot 2007, terwyl die Klawer Birdfield Chardonnay 2010, die Spencer Bay The Blend 2008 (‘n rooi versnit), die Lutzville The Diamond Collection Cabernet Sauvignon 2008 en die Bellpost Ruby Cabernet 2007 onder die 13 wenners van brons medaljes is.

Veritas se paneel plaaslike en buitelandse beoordelaars volg streng internasionale riglyne en alle proeë word “blind” gedoen. Individuele beoordelaars ken punte toe uit 20 waarna die puntetellings bespreek en konsensus bereik word.

’n Dubbelgoue medalje word aan ’n wyn of brandewyn toegeken wat 18 of meer uit 20 behaal, terwyl ’n telling van 17 punte ’n wyn of brandewyn ’n goue medalje sal besorg. Silwer beteken ’n telling van 16 punte en brons ’n telling van 15.

Die Veritas-toekennings gee erkenning aan wyne en brandewyne van buitengewone gehalte en die kenmerkende Veritas-simbool van uitnemendheid dien as gesaghebbende gehalteriglyn vir wynliefhebbers en –kenners.

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram