‘n Witte vir Matthys, ‘n rooie vir Kevin ... en daar lê die ding!

Date posted:
January 26, 2012

Dit sou ‘n wynproe saam met Drie van die Beste gewees het, maar toe daag Danie Niehaus meer as ‘n uur en ‘n half laat op en mis al die pret. Maar Mathys Roets en Kevin Leo, die twee ander lede van Drie van die Beste, het meer as hul kant gebring en D’Aria se wyne met oorgawe geproe en geniet.

 

Maar laat ek eers gou die agtergrond skets. Drie van die Beste sou by D’Aria daar in die Durbanville-wynvallei optree. Anelia Marais van Voetprint Produksies kry toe die idee in haar kop om ‘n vinnige wynproe met lekker eethappies saam met die drie sangers te reël net voor hulle begin repeteer en klank instel vir die aand se opvoering. En ek, altyd ‘n bok vir sports, stem toe in.

 

D’Aria Vineyards is nog ‘n jongeling in die wynbedryf. Om die waarheid te sê, hy loop nog met die spreekwoordelike tiet in die mond rond! Maar hou die naam gerus dop! Jong, innoverende en energieke wynmakers soos Rudi von Waltsleben en sy pragtige assistent, Grettchen Visagie, gaan nog baie koppe laat draai.

 

D’Aria bestaan uit twee plase, Doordekraal en Springfield, en dateer uit 1698 toe Doordekraal aan die weduwee, Tryntjie Verwey, toegeken is. Haar man is oorlede kort nadat hulle en hul drie kinders in die Kaap aangeland het.

 

Sowat 60 hektaar van die plaas van 80 hektaar is onder wingerd, waarvan 80% uit rooi druiwe en 20% uit wit bestaan. Danksy die koel toestande tydens die druiwe se rypwordperiode is hierdie gebied veral bekend vir sy sauvignon blanc en merlot.

 

Die eerste D’Aria-wyn is in November 2005 vrygestel, die D’Aria Sauvignon Blanc. Intussen het ‘n merlot, ‘n shiraz/cabernet sauvignon/merlot-versnit en die Blush, ‘n versnit van merlot en sauvignon blanc, ook bygekom.

 

Links: Die manne het D'Aria se wyne gate uit geniet en Kevin (regs) het nie 'n kans laat verby gaan om die gek te skeer nie!

 

D’Aria se kelder is eers in Februarie 2008 voltooi en het sommer sy heel eerste oes met ‘n Veritas-dubbelgoud gevier vir sy reserwe- Sauvignon Blanc, The Songbird! The Songbird het ook ‘n brons medalje op vanjaar se Decanter Wine Show in London gewen.

 

Maar genoeg van die landgoed. My gaste vir die dag het geen bekendstelling nodig nie.

 

Mathys Roets was onlangs weer baie in die nuus, maar ongelukkig vir die verkeerde redes, maar sy lewenslus is geensins deur daai tragiese motorfietsongeluk gedemp nie. En hy is een van daai mense van wie jy onmiddellik hou sodra jy hom ontmoet.

 

Kevin Leo is ook geen onbekende nie. Sy borrelende persoonlikheid is blykbaar baie moeilik om te onderdruk en hy vind dit moeilik om nie grappe te maak of die gek te skeer nie!

 

Albei is wynliefhebbers. “Wyn is vir my ‘n liefde, ‘n passie,” vertel Mathys. “Ek hou van wyne met mekaar vergelyk. My wynsmaak neig meer na die aromatiese wyne, veral na my ongeluk want al daai medikasie het my reuk- en smaakvermoëns aangetas. Ek verkies vandag ‘n wittetjie, byvoorbeeld ‘n lekker geurvolle sauvignon blanc.”

 

“Ek proe op instink,” vertel Kevin terwyl hy ‘n groot teug van sy sauvignon blanc vat. “Ek dink ek het ‘n goeie gevoel vir wyn, maar moet my nie vra om my wynkennis op ‘n skaal van 0 tot 10 te skat nie. Ek kan dit nie doen nie. Al wat ek kan sê, is dat ek ‘n groot wynliefhebber is, en ‘n groot rooiwynman.”

 

En so het ons drie onder die bekwame toesig van Rudi D’Aria se vyf wyne geproe. Die Merlot en die Blush het vir Mathys die meeste beïndruk en elkeen 17 uit 20 gekry. “Wow, soveel smake om te onderskei” was sy kommentaar op die Merlot en “Ek wil meer hê” het hy langs die Blush geskryf.

 

Regs: Die stembande moes darem vir 'n laaste keer ge-olie word net voor die repetisie begin! 'n Keel wat droog is, werk mos nie lekker nie!

 

Kevin het al die wyne volpunte gegee (!?!), behalwe vir die Merlot wat hy met 22 uit 20 onderskei het! “My gunsteling!” was sy kort en kragtige kommentaar op die Merlot.

 

Vir my het die D’Aria The Songbird homself onderskei van sy stalmaats. Ek het veral van die geure van ligte tropiese vrugte en appelliefies gehou en gevind dat die gebruik van hout die wyn voller maak.

 

Tussen dit alles deur het die Poplars Restaurant op D’Aria ons op ‘n gastronomiese reis geneem met “smoked chicken quiche with chilli mayo sauce, garlic prawns with sweet chilli sauce, springbok carpaccio with button mushrooms and balsamic & olive oil dressing” en “Greek milktarts drizzled with dark chocolate sauc”.

 

Nou-ja, wat kan ek sê, dekadensie op sy tyd en plek is ‘n goeie ding! Maar maak tog in hemelsnaam tyd en plek daarvoor!

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram