Simonsvlei Internasionaal bou steeds voort op hulle belofte tot innovering en individualisme met die bekendstelling van ‘n splinternuwe produk, die Toffee Chunk Syrah. Hierdie alleenstaande produk is spesifiek geskep vir wynliefhebbers wat op soek is na ‘n unieke wyn met ‘n sonderlinge smaakprofiel.
Toffee Chunk Syrah se oorsprong kom van die toffiekarakter wat voortspruit uit die unieke veroudering van hierdie volronde wyn. Slegs die beste gehalte shiraz-druiwe van Simonsvlei-produsente is vir die maak van die wyn gebruik. Die klein bessies het koue uitweking (maserasie) ondergaan vir uitstekende kleuronttrekking, wat bydra tot die diep robynrooi kleur van die Toffee Chunk. Die kenmerkende toffiegeure domineer, maar word gevolg met ‘n streelsagte rokerigheid en eindig met ‘n luierende bessiesmaak in die mond.
Toffee Chunk Syrah is die perfekte pasmaat vir asiago-kaas, gerookte en gepekelde vleise, peperige of gekruide biefstuk of jou gunsteling-kaasdisse. Ontbloot die volledige geurprofiel van die wyn deur dit vooraf in ‘n kraffie te skink.
Volgens Simonsvlei se wynmaker, Christine Jones, is hierdie nuwe generasie wyn beslis geposisioneer om ‘n nismark te skep.
“Alhoewel ons die afgelope paar jaar ‘n magdom koffie-gedrewe pinotages se toetrede tot die mark gesien het, dink ek dat Toffee Chunk se onmiskenbare smaak beslis ‘n nuwe maatstaf in die bedryf sal stel. In vandag se hoogs mededingende wynmark is dit absoluut noodsaaklik dat produsente soos ons in staat is om onsself te differensieer met ‘n produk wat die eerste van sy soort op die mark is.”
Die Toffee Chunk Syrah verkoop vanaf R85 en is tans landwyd beskikbaar by uitgesoekte supermarkte en drankwinkels.
Vir meer inligting, besoek www.simonsvlei.com.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast