’n Stylvolle, nuwe voorkoms weerspieël Kunjani se ware karakter

’n Handgebaar wat ’n groet tussen vriende simboliseer en ’n eenvoudige dog duidelike boodskap op ’n wynetiket wat mense uitnooi om die goeie lewe te geniet. Dis wat Kunjani Wines wil oordra aan ’n ieder en ’n elk met hul nuut ontwerpte en opgedateerde wynetikette.

“Hier op Kunjani gaan alles oor gaste groet met ’n hartlike verwelkoming, en die hande op die etiket verteenwoordig ’n groet tussen vriende. Kunjani beteken ‘Haai daar, hoe gaan dit met jou? en dis presies hoe vriendskappe begin,” sê Pia Watermeyer, Kunjani se mede-eienaar.

Kunjani Wines is ’n nuwe boetiek-wynmakery hoog teen die Bottelary-heuwels buite Stellenbosch waar goeie kos, puik wyn en weelderige verblyf saamspan om die goeie lewe te weerspieël … en die ware karakter van hierdie skouspelagtige plek waar liefde en passie in elke skepping gevind word.

Kunjani het in November 2017 sy deure vir die publiek oopgegooi en vinnig ’n gunsteling onder sowel smulpape as wynliefhebbers geword, asook onder mense wat die weelde en gerief van die luuksieuse verblyf met skouspelagtige uitsigte kom geniet.

Nuwe Etikette

Na verskeie toekennings vir hul wyne en lofbetuigings vir die fynproewerkos en die argitektoniese ontwerp van die proelokaal en restaurant, is besluit om die etikette van die wyne in lyn te bring met die luukse karakter van die geriewe op Kunjani. Die bekende ontwerp-ateljee Haumann Small is genader en nuwe etikette is ontwerp.

Die opdrag was om die etikette te omskep om ’n meer kontemporêre, gesofistikeerde en tydlose voorkoms te skep. Paul Barth, Pia se eggenoot en mede-eienaar, wou die twee hande behou (een manlik, een vroulik) wat ’n “vuisstamp” doen en ’n groet simboliseer, terwyl Pia die argitektoniese elemente en kleure van die gebou en restaurant wou inkorporeer. Die nuwe etikette is gedruk in ’n steenkoolkleur met ’n glansende hoogdruk om ’n kontras te skep met die mat papier.

Die element van die twee hande, wat oorgeteken is in ’n grafiese lynwerkstyl, is geplaas in ’n klein ovaal wat op sy eie gebruik kan word of as deel van die logo en handelsmerk.

Die Eienaars

Hoe het hierdie jongste toevoeging tot die Stellenbosch-wynroete tot stand gekom? ’n Toevallige ontmoeting het ’n Duitse entrepreneur, Paul Barth, en Pia Watermeyer, ’n Suid-Afrikaanse sakevrou, bymekaar gebring. Hul verhouding bewys dat met puik wyn en goeie kos selfs taal- en kultuurverskille oorbrug kan word.

“Ons glo wyn is ’n universele taal,” verduidelik Pia. “Niks bou verhoudings, en hou vriendskappe aan die gang, soos die deel van ’n bottel goeie wyn en puik kos nie. En ons bied albei hier op Kunjani.”

Paul is egter meer as net ’n entrepreneur. Hy kom uit die Rheingau-wynstreek van Duitsland en sowel sy oupa as sy pa was wynmakers. As kind het hy elke jaar gehelp met die oes. Om dus na Suid-Afrika te kom en sy eie wynhandelsmerk op sy eie “stukkie hemel op aarde” te vestig,  was ’n droom wat waar geword het.

Wynmaker – Carmen Stevens

Die bekroonde wynmaker, Carmen Stevens, is verantwoordelik vir Kunjani se wyne. Carmen het aan die Elsenburg-landboukollege naby Stellenbosch gestudeer en in 1995 gegradueer, en die eerste swart wynmaker in Suid-Afrika geword. Sy het by Distell aangesluit as assistent-wynmaker vir die Zonnebloem-handelsmerk. Later het sy die rol as wynmaker oorgeneem vir Distell se nuwe Tukulu-handelsmerk, ’n swart bemagtigingsprojek.

Twee Top 10-pinotage’s, ’n oes in Kalifornië en ’n tydperk as buitelandse verteenwoordiger vir Tukulu is gevolg deur ’n periode by Welmoed vir Stellenbosch Vineyards. Toe het sy 8 jaar by Amani deurgebring waar sy in 2008 die Decanter-trofee vir rooi Bordeaux-kultivars gewen het vir haar Amani Cabernet Franc/Merlot 2006.

Vandag gebruik Carmen Kunjani se eie shiraz-druiwe, terwyl sy die ander druiwe aankoop vir die landgoed se wyne. “Ons is baie kieskeuring oor waar en van wie ons druiwe aankoop,” sê Carmen. “Gehalte is van die uiterste belang vir ons aangesien ons daarna streef om te alle tye die beste in elke bottel Kunjani-wyn te sit.” Die merlot- en cabernet sauvignon-wingerde naby die landgoed word deur die span op Kunjani bestuur en verseker dat daar vanuit die wingerd tot in die kelder en tot in die bottel beheer oor die hele proses is.

Kunjani het slegs 2½ hektaar onder wingerd, alles shiraz, en die landgoed se Riesling word ingevoer vanaf Duitsland se Rheingau-streek.

Die Restaurant

Die Kunjani Restaurant se spyskaart word onder die waaksame oog van die hoof-sjef, Lamek Mnisi, opgestel . Lamek is sedert die opening van die restaurant in 2017 aan die stuur van sake. Hy soek nie net vir bestanddele van die hoogste gehalte en innoverende idees wanneer hy elke seisoen se spyskaart saamstel nie, maar hy hernu die spyskaart voortdurend sodat gereelde gaste altyd ’n nuwe dis vind wat hulle verras.

Sjef Lamek se “Chakalaka Rack of Lamb” laat die tong gons.

In lyn met hul filosofie om net seisoenale bestanddele en die beste vars produkte te gebruik, het Kunjani hul spyskaart gestroomlyn om hul passie vir plaaslike, vars, heilsame en gesonder opsies te reflekteer, wat ook volhoubaar is. Deur net van plaaslike produkte gebruik te maak, probeer die restaurant verantwoordelik optree teenoor die planeet en sy natuurlike hulpbronne, en sy koolstofvoetspoor verminder. As gevolg hiervan word net vis van die groen lys van die South African Sustainable Seafood Initiative (SASSI) gebruik.

Privaat Villas

Kunjani se akkommodasie bestaan uit vier privaat, selfsorg-villas met asemrowende uitsigte – Shiraz, Merlot, Cabernet en Stolen Chicken. Shiraz en Stolen Chicken kan elkeen tot vier mense huisves, terwyl Merlot en Cabernet elk twee mense kan akkommodeer. Die villas is gerieflik naby Stellenbosch en Kaapstad, en omring deur wingerde. Hulle is ten volle toegerus en sluit luukshede soos wasmasjiene/wasgoeddroërs, koffiemasjiene, muurpaneelverhitters, lugversorging, “slim” TV’s, komplimentêre Wi-Fi en privaat stoepe met braaigeriewe in.

Argitektuur en Interieur

Om die kroon te span, is Kunjani ingesluit in Architectural Digest Magazine se lys van “Top 19 Best Vineyard Designs Around the World”. Architectural Digest Magazine is die aanlyn-outoriteit in ontwerp en argitektuur en bied ’n eksklusiewe blik op die wêreld se mooiste huise en ontwerpe.

“Die gebou se ontwerp verteenwoordig ’n moderne kinkel op Kaaps Hollandse argitektuur met sy steenkoolkleurige buitekant en rooi skuifskerms wat geïnspireer is deur die patrone op die modderhutte in Wes-Afrika. Die interieur is ewe gewaagd met interessante en opvallende trappe en wyn-uitstalling, beeldende muurpapier en helder rooi aksente,” skryf die tydskrif se Alison Levasseur en Elizabeth Stamp.

Kunjani se interieur is deur Pia en die ikoniese Haldane Martin geskep. As ’n ontwerper was Haldane instrumenteel in die ontstaan van ’n nuwe Suid-Afrikaanse ontwerptaal en -identiteit. Hy het Pia se konsep en handelsmerk-identiteit suksesvol omskep in ’n innoverende, stylvolle en sielvolle interieur met ’n unieke karakter. Dit sluit eiesoortige toebehore, weelderige afwerking en unieke meubels in, asook kunswerke deur die plaaslike kunstenaars Krisjan Rossouw en Peter Pharoah.

Vir meer inligting, besoek www.kunjaniwines.co.za

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>