‘n Sterbelaaide jaar vir KWV se premie-handelsmerke

Date posted:
December 13, 2011

‘n Absoluut fenomenale jaar gevul met toekennings het daartoe gelei dat KWV se premie-wyne hul posisie in sowel die plaaslike as internasionale markte herbevestig het.

 

Eerste om na vore te tree vanjaar was die KWV se The Mentors Orchestra 2008 wat ‘n goue medalje sowel as ‘n streekstrofee binne die Suid-Afrikaanse kategorie vir ‘n rooi Bordeaux-kultivar vir £10 op die Decanter World Wine Awards los geslaan het.

 

Nog twee wyne uit die KWV-stal, The Mentors Chardonnay 2010 en The Mentors Shiraz 2009, het ook goud gebuit op hierdie internasionaal erkende kompetisie. Met sowat 7 500 wyne uit 49 lande wat beoordeel is, was die kompetisie weer eens ‘n bewys dat die The Mentors-reeks KWV se strewe na uitnemendheid en gehalte onderstreep en sodoende ook die maatskappy se nuwe energie.

 

Die Cathedral Cellar Chardonnay 2010 het sommer dubbel seker gemaak dat die KWV se premie-reeks in die kollig bly deur nie net ‘n goue medalje by Decanter te kry nie, maar het toe ook sommer goud los geslaan op die Concours Mondial de Bruxelles, ‘n kompetisie wat bekend is vir sy verskeidenheid, nie net wat produsente betref wat hul wyne en spiritualieë inskryf nie, maar ook vir sy paneel wat bestaan uit internasionale kenners wat wissel van wynskrywers tot sommeliers.

 

KWV se goed gebalanseerde Laborie Jean Taillefert Shiraz 2009 het ook op die internasionale front uitgeblink deur ‘n goue medalje te wen op die Mundus Vini International Wine Awards, die hoogtepunt van wyn in Duitsland en een van die grootste kompetisies van sy soort ter wêreld.

 

Die Jean Taillefert Shiraz 2009, ‘n wyn met ‘n sterk Suid-Afrikaanse erfenis, het ook ‘n goue medalje gewen op die International Wine & Spirit Competition (IWSC) in Londen waar dit ook aangewys is as die beste wyn in sy klas. Hierdie toekenning word gedoen aan wyne wat beskou word as uitmuntende voorbeelde wat die maatstaf stel. Hierdie wyn was een van slegs 32 goud/beste in klas (Ander Lande en Produsente) uit ‘n totaal van 641 medaljes gewen deur Suid-Afrikaanse inskrywings.

 

Die KWV The Mentors Orchestra 2009 het nog ‘n toekenning by sy vroeëre prestasies gevoeg toe hy die Riedel-trofee vir die Beste Bordeaux-styl versnit op die Old Mutual Trophy-wynskou, een van Suid-Afrika se vernaamste wynkompetisies wat erkenning gee aan die beste plaaslike wyne en wynmakers, asook uitnemendheid in die wynbedryf erken, ingepalm het. Die wyn het ook ‘n goue medalje gewen op die Michelangelo International Wine Awards. Wat hierdie kompetisie uitsonderlik maak, is die feit dat slegs 30% van die inskrywings medaljes mag wen.

 

Die Old Mutual Trophy-wynskou het ook gesorg dat die KWV die trofee vir die beste gefortifiseerde dessertwen in die museumklas gewen het met sy KWV White Jerepigo, ‘n wyn wat in 1933 gemaak is en die oudste om ooit ‘n trofee op die skou te wen.

 

KWV se Cathedral Cellar Cabernet Sauvignon 1995 het gewys dat hy nie tweede viool speel nie deur die American Express Trophy vir die beste cabernet sauvignon in die museumklas te wen, en sodoende ‘n driekuns vir die KWV op hierdie kompetisie voltooi.

 

Die KWV The Mentors Sauvignon Blanc/Semillon 2009, reeds ‘n wenner van goud op sowel Veritas as Michelangelo, het ‘n gesogte diamant-toekenning op die Winemakers’ Choice Awards ingepalm, terwyl KWV se The Mentors Shiraz 2009 ook ‘n diamant-toekenning gewen het na ‘n goue medalje op Michelangelo.

 

Die Winemakers’ Choice Awards is die enigste kompetisie wat uitsluitlik deur wynmakers beoordeel word wat alle wynstreke verteenwoordig. Die diamant-toekennings, die kompetisie se hoogste eerbewys, word net aan die beste 10% van die inskrywings toegeken.

 

Ook op die plaaslike front het KWV se The Mentors Pinotage 2009 nie net ‘n goue medalje op die Michelangelo International Awards gewen nie, maar op die ABSA Top 10 Pinotage-kompetisie het dit ook KWV se rekord as ‘n produsent van wyne van volgehoue gehalte bevestig deur onder die top tien te eindig. Sodoende verteenwoordig dit die gehaltemaatstaf vir hierdie uniek Suid-Afrikaanse kultivar.

 

Die sterbelaaide jaar het geëindig toe die KWV geskiedenis gemaak het deur die meeste goue en dubbelgoue medaljes wat nóg deur ‘n enkele produsent verower is, op die Veritas-wynkompetisie gebuit het. Veritas is Suid-Afrika se oudste en mees vooraanstaande wynkompetisie. Onder die wenners was die KWV The Mentors Petit Verdot 2009 en The Mentors Sauvignon Blanc 2009.

 

Nog lofbetuigings in die vorm van goue medaljes by Veritas vir die The Mentors-reeks het gegaan aan die Sauvignon Blanc/Semillon 2009 en die Canvas 2009, terwyl die KWV Reserve Collection Chardonnay 2010, die Cathedral Cellar 2009 Tryptich, die KWV Hanepoot Jerepigo 1973 en die Laborie Alambic Brandy ook goud raak geboor het. Die Alambic Brandy is ‘n dubbelgestilleerde potketelbrandewyn wat 99.5 punte by die Suid-Afrikaanse Wynindeks (SAWi) ontvang het waar wyne oor vele oesjare en deur verskillende beoordelaars beoordeel word vir ‘n uiteindelike, gekondenseerde punt.

 

Die jaar het op ‘n hoogtepunt ge-eindig toe KWV se The Mentors Grenache Blanc 2010 ‘n vyfstergradering in die 2012-uitgawe van die gesaghebbende en internasionaal erkende Platter’s-wyngids ontvang het. Van die meer as 7 000 wyne wat vir die uitgawe geproe is (400 meer as vir die 2011-uitgawe), het slegs 45 wyne die gesogte vyfstergradering ontvang. Volgens die gids is so ‘n wyn “uitmuntend en ‘n ware klassieke Suid-Afrikaanse wyn”.

 

Jeff Gradwell, KWV se handelsmerkbestuurder, het die volgende te sê oor hierdie suksesvolle jaar: “Vanjaar was ‘n uitsonderlike jaar vir die premie-handelsmerke aangesien hulle op sowel plaaslike as internasionale vlak gepresteer het. Die wyne simboliseer ons strewe na uitnemendheid en gehalte, en weerspieël die nuwe KWV-energie. Ons is optimisties dat 2012 net soveel medaljewenners sal oplewer, indien nie meer nie.”

 

Vir meer inligting oor hierdie wyne en bykomende toekennings vir die individuele reekse, besoek gerus www.kwv.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram