‘N RUBY CABERNET KRAAI KONING OP SA JONGWYNSKOU!

Date posted:
August 17, 2012

‘n Relatief jong wynmaatskappy is die wenner van die gesogte Generaal Smuts-trofee op vanjaar se Suid-Afrikaanse Jongwynskou. ‘n Ruby Cabernet van uniWines Vineyards het die gesogte gewen as die beste jongwyn van die skou. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat hierdie kultivar dié hoogaangeskrewe trofee wen. Die Generaal Smuts trofee is 60 jaar gelede in 1952 vir die eerste keer toegeken.

Dié toekenning beloon die wynmaakbesluite van die keldermeester, Nicolaas Rust, en sy span aangesien hulle verlede jaar met ‘n ruby cabernet in die klas vir Ander Rooi Kultivars ‘n SA Kampioen-titel verower het.

uniWines het vier jaar gelede tot stand gekom toe Groot Eiland Kelder, Daschbosch en Nuwehoop – almal in die Breedekloof-omgewing – kragte saamgespan het.  Groot Eiland het in 2006 die Generaal Smuts-trofee met ‘n ruby cabernet/merlot-versnit gewen.

Spier se ster het weer helder geskyn en hul drie SA Jongwyn-kampioene het aan hulle die Pietman Hugo-trofee vir die meeste punte vir die vyf beste wyne besorg.  Met nie minder nie as drie wenwyne behoort die hoofwynmaker, Frans Smit, en sy span opgewonde te wees oor die vooruitsigte van hierdie spesifieke oesjaar. Spier se wenwyne was ‘n chenin blanc (gehout), ‘n chardonnay (gehout) en ‘n merlot (gehout).

“Die goeie getal inskrywings, 2 124 vanjaar, wys dat die land se oudste en grootste wynskou floreer,” meen Charles Hopkins, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV).  “Die terugvoer vanaf die beoordelaars van hierdie gerespekteerde kompetisie is besonder waardevol in terme van die besluite wat ‘n wynmaakspan tydens elke nuwe oesjaar moet neem.”

Vergelegen en Badsberg is kop-aan-kop met twee SA Kampioene elk. Die titel van SA Kampioen Wit Versnit gaan vanjaar aan die keldermeester, Willie Burger, en sy span van Badsberg vir hul chenin blanc/chardonnay, terwyl Vergelegen die SA Kampioen Rooi Versnit-kroon vat met hul cabernet sauvignon/merlot/cabernet franc/petit verdot-versnit. 

Badsberg het voorts vir die tweede jaar die SA Kampioen Dessert Wyn-kategorie gewen met ‘n Rooi Jerepigo, terwyl die SA Kampioen Cabernet Sauvignon-titel aan Andre van Rensburg en sy span op Vergelegen gegaan het.

SA Kampioene: 

Agter: Hein Janse van Rensburg (Namaqua), Jacques Bruwer (Bon Courage), Charl Myburgh (uniWines), Nicolaas Rust (uniWines), Johann Smit (Spier), De Wet Viljoen (Neethlingshof), Charles Hopkins (SANWSA voorsitter), Frans Smit (Spier), Boets Nel (De Krans)

Middel: Johan Ehlers (Agri-Expo), Magnus Kriel (Merwida), Henri Swiegers (Badsberg), Paul Malan (Mountain Ridge)

Voor: Riaan Liebenberg (OWK), Nico Grundling (Slanghoek), Willie Burger (Badsberg), Samantha De Morney Hughes (Vergelegen), Johan Jordaan (Spier), Gerhard Swart (Flagstone), Jacques Erasmus (Spier)

Nege ander kelders het SA Kampioene opgelewer. Flagstone Winery se sémillon blyk onstuitbaar te wees in sy segetog aangesien die SA Kampioen Sémillon-titel vir die derde agtereenvolgende jaar aan hierdie kelder toegeken is. Merwida Wynkelder het die SA Kampioen Sauvignon Blanc-kategorie gewen en OWK Groblershoop die SA Kampioen Ander Wit Kultivar-kategorie met hul viognier. Bon Courage spog weer eens met die SA Kampioen Natuurlike Soet Wit Wyn en Neethlingshof met die SA Kampioen Edellaatoeswyn. 

Die SA Kampioen Pinotage-titel is aan ‘n gehoute pinotage van Namaqua Wines (Spruitdrift) toegeken, terwyl Mountain Ridge Wines se shiraz (gehout) die SA Kampioen Shiraz-titel ingepalm het.

De Krans is vanjaar se Portkoning met hul port (bestem vir Cape Tawny) en Slanghoek Kelder het die SA Kampioen Muskadeltitel geoes met hul Rooi Muskadel Jerepigo.

Tydens die toekenningseremonie het Charles Hopkins aangekondig dat die raad van die SA Jongwynskou pas ‘n botteletiket vir die Generaal Smuts-trofeewyn goedgekeur het. Hierdie plakker sal op die gebottelde wenwyn pryk. Die produsent sal moet voldoen aan die nodige vereistes soos daargestel deur die Wyn- en Spiritusraad om te kwalifiseer om die etiket te gebruik. 

Besoek www.youngwineshow.co.za vir meer inligting of kontak Elsabe Ferreira by 021 863 1599 of via e-pos na admin@veritas.co.za. Vir die jongste nuus, volg die SA Jongwynskou op Facebook by http://www.facebook.com/pages/South-African-Young-Wine-Show/282525535188001 of Twitter @sayoungwine.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram