ʼn Ruby cabernet bekroon as Suid-Afrika se beste jongwyn 

ʼn Gehoute Ruby Cabernet van Badsberg in die Breedekloof by Worcester het die gesogte Generaal Smuts-trofee los geslaan as algehele SA Kampioen-Jongwyn vir 2020 nadat dit ook bekroon is as die beste inskrywing in die kategorie Ander Rooi Kultivar op vanjaar se SA Jongwynskou.

Dit was die derde keer dat Badsberg met die Generaal Smuts-trofee vir die algehele wenner wegstap nadat hulle dit ook in 2016 verower het met  ʼn gehoute Pinotage en in 2009 met ’n natuurlike soet witwyn.

Dit is die tweede keer in die kompetisie se 188-jarige bestaan, die oudste van sy soort ter wêreld, dat ʼn ruby cabernet die louere inpalm. Die vorige keer was in 2012.

Altesaam 40 wyne het klaswenner-status behaal en 74 het goue medaljes ontvang.

In ʼn unieke uitslag het twee kelders, Robertson Wynmakery en Wellington Wyne, die Pietman Hugo-trofee – wat vir die wynmakery met die hoogste punte vir sy  vyf beste wyne toegeken word – gedeel. Hulle was kop aan kop met die totale punte vir hul beste wyne.

Die oorweldigende kommentaar van die beoordelaars was dat die wyne wat ingeskryf is van hoogstaande gehalte was. Die gehalte van die 2020-witwyne was van ’n besonder hoë gehalte, so ook die rooies.

Wat chenin blanc betref, het die ongehoute wyne in die algemeen beter vertoon as die gehoutes, wat moontlik meer tyd nodig het om tot hulle vol reg te kom. Dit was ʼn baie goeie jaar vir die verskillende style sauvignon blanc danksy ʼn baie koel Januarie en Februarie. Die beoordelaars was beïndruk met die talle mooi “groen”, sowel as tropiese style.

Die 2020-oesjaar was besonder gunstig vir chardonnay en die beoordelingspaneel het ongehoute wyne met goeie balans ervaar, met puik mondgevoel en lengte, terwyl die uitblinkers onder gehoute wyne gekenmerk was deur balans,  met meer natuurlike suur en lemmetjie-sitrus kenmerke.

In die wit versnit-klas sonder hout het wyne met kenmerkende sauvignon blanc- en sémillon-karakter sterk na vore getree, asook versnitte met colombar wat ondersteun was deur sterk tropiese geure.

Die rooi versnitwyne wat ingeskryf is, was vol en meestal in balans, terwyl merlot pragtige, belowende en vol wyne met sagte tanniene opgelewer het. Die cabernet sauvignon-wyne was uitstekend, soos verwag, terwyl pinotage vanjaar baie goed vertoon en dié oesjaar se gehalte sterk na vore gekom het met goeie kleur, struktuur en sagte, afgeronde tanniene.

By shiraz het die ongehoute wyne vanjaar uitgeblink met wyne wat kenmerkende kultivar-eienskappe vertoon wat wissel van elegante rooivrugtegeure met wit peper en fyn tannienstruktuur tot donker vrugte, swart peper en meer kompleksiteit.

Ander kultivars wat uitstekend vertoon het, was cinsaut, touriga nacional, tannat, petit sirah en petit verdot.

Wat die algehele uitslae betref, was die uitblinkers – benewens Badsberg – wat elk twee nasionale wenners opgelewer het die volgende:

  • Darling Cellars met die SA kampioene Merlot (gehout) en Rooi Versnit Shiraz/Pinotage (gehout)
  • Spier Wines met die SA kampioene Sémillon (gehout) en hul Wit Versnit (Sauvignon/Sémillon)
  • Wellington Wines met Pinotage (gehout) en Shiraz (ongehout)

Die res van SA Kampioenwyne is:

  • Chardonnay – Nuy Wynkelder, Chardonnay (gehout)
  • Chenin Blanc – Perdeberg Cellar, Chenin Blanc (gehout)
  • Sauvignon Blanc – Diemersdal, Sauvignon Blanc
  • Ander Wit Kultivar – Van Loveren Family Vineyards, Colombar
  • Natuurlike Soet Witwyn – Robertson Wynmakery, natuurlike soet witwyn (RS >20g/l)
  • Edellaatoeswyn – Bon Courage Landgoed, edellaatoes
  • Cabernet Sauvignon – Alto Landgoed,  Cabernet Sauvignon (gehout)
    • Dessertwyn – Excelsior Vlakteplaas, Rooi Jerepiko
    • Muskadel – Namaqua Wines (Spruitdrift),  Wit Muskadel Jerepiko
    • Cape-styl – De Krans Wines, Cape Vintage

Die Voorsitter van die Jongwynskou, Christo Pienaar, sê die gehalte van vanjaar se jongwyne was uitmuntend en is ʼn goeie refleksie van die 2020-oesjaar. “Ek was beïndruk dat die wenners van die SA Kampioenwyne van regoor die land se wynproduserende gebiede gekom het en van uiteenlopende keldertipes. Ek wil al die kelders wat deelgeneem het, bedank vir hulle volgehoue ondersteuning.”

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>