‘n Paradys aan die voet van die Helderberg

Date posted:
June 22, 2009

“Wyn is vir my passie. Dit is familie en vriende. Dit is ‘n warm hart en ‘n edelmoedige gees. Wyn is kuns. Dit is kultuur. Dit is die wese van die beskawing en die kuns van die lewe.”

 

So skryf Robert Mondavi oor die nektar van die gode in sy outobiografie Harvests of Joy.

 

Met hierdie gevleuelde woorde in gedagte het ek een wintersoggend verlede jaar met ‘n nuwe Nissan X-Trail ALL MODE 4x4-i die pad Stellenbosch toe gevat om ‘n dag by ‘n paar van die wynmakers langs die Annandale-pad tussen die Eikestad en Somerset-Wes deur te bring, min wetende wat op my gewag het.

 

Terloops, hierdie area (bekend as Helderberg) lê binne wat beskou word as een van Suid-Afrika se primêre wynbougebiede. En links soos jy van Stellenbosch af Somerset-Wes toe ry op die R44.

 

My besoek het afgeskop by Haskell Vineyards (021-881-3895) wat jy vind as jy met die kort teerpad langs ry, wat oorslaan na baksteenplaveisel, verby die Bilton-wynkelder en net voor Rust en Vrede regs draai. Volg dan die pad tot by die kelder en proelokaal.

 

Hierdie boetiek-wynplaas van 23 hektaar het in 2005 sy eerste oes opgelewer. Saam met assistant-wynmaker Wikus Pretorius het ons hul vier Dombeya-wyne geproe - 2005 en 2006 se shiraz, die 2006-chardonnay en hul Bordeaux-versnit, die Dombeya Samara 2005.

 

En ek het geweet ek’s in vir ‘n ding! As mens so hoog begin, gaan jy òf iewers vorentoe moet daal òf eenvoudig gewoond moet raak aan daai hoogte!

 

Links: Die intieme proelokaal op Uva Mira. Gaan staan egter buite op die stoep en laat jou asem weggeslaan word deur die toneel wat jou begroet!

 

Hiervandaan is ons terug na die teerpad, links by die ingang na Webersburg/Ernie Els/ensovoorts en kronkelend saam met die pad tot by Uva Mira (021-880-1683) se kelder en proelokaal waar wynmaker Matthew van Heerden ons ingewag het.

 

Met toekennings soos die Beste Chardonnay in die Wêreld en ‘n wynmaker wat al gereken is as een van die planeet se tien beste, kan hierdie boetiek-wynplaas steeds in familiebesit nie anders nie as om jou stoutste verwagtinge te oorskry.

 

Uva Mira is glo die Latyns vir hoë druiwe, en as jy daar op die balkon van die proelokaal staan en afkyk op daai hemelse natuurskoon en asemrowende uitsigte (selfs so ver en verder as Valsbaai), dan verstaan jy hoekom hierdie plaas so heet.

 

Uva Mira se twee wynreekse, die Cellar Selection (‘n sauvignon blanc en ‘n merlot/cabernet-versnit) en die Vineyard Selection (‘n enkelwingerd-chardonnay en ‘n rooi versnit), laat jou voel of jy in die hemel is, en veral daai chardonnay het ek so moeilik gelos soos ek reeds geweet het ek van die Nissan X-Trail gaan afstand doen.

 

Ons het die kort paadjie terug na Hidden Valley Wines (021-880-2646) sommer gou afgelê, en die redes was nie net die lekker wyne wat gewag het nie, maar ook middagete by die Overture Restaurant waar elke gereg met ‘n aanbevole wyn kom. En gly my nou vry, sjef Bertus Basson weet wat hy doen!

 

Daar’s ‘n wye verskeidenheid wyne om uit te kies, van die Hidden Valley-reeks tot die Hidden Agenda-reeks, en van Land’s End se twee tot Contour 296 s’n. O ja, en weer daai ongelooflike uitsigte!

 

Versadig en verkwik (maar nie vir lank nie!) is ons daar weg vir ons volgende kuiertjie, Alto se nuwe “port en pure plesier-proe” met Italiaanse soethappies en Alto Port. Wellustig en verleidelik is woorde wat sowel die proe as die Nissan X-Trail se weelderige en gerieflike binneruim goed beskryf.

 

Alto (021-881-3884) het geen bekendstelling nodig nie en wynmaker Schalk van der Westhuizen is ‘n stil man wat die wingerde en wyne laat praat, maar hulle vertel ‘n storie wat lekker is om na te luister, met die neus en die mond. “Luister” gerus na Schalk se fluweelsagte Alto Rouge, of sy gesofistikeerde Alto Cabernet Sauvignon, of die gulhartige en aanloklike Alto Shiraz.

 

Ons laaste besoek van die dag was by die Bilton-wynlandgoed (021-881-3714) waar ons eers getrakteer is op ‘n rit deur die wingerde in een van Mark Bilton se veteraanmotors, so ‘n spierwit Jaguar uit toeka se dae. Toe het wynmaker Rudi de Wet en wynkonsultant Giorgio Dalla Cia ons deur die kelder geneem voordat ons gaan aansit het vir ‘n wynproe wat gestalte gegee het aan Giorgio se passievolle en byna evangeliese benadering tot wynmaak.

 

Hy en Rudi loop al ‘n stewige pad saam en hul “vennootskap” is vir my tot ‘n byna heilige hoogtepunt geneem met die 2006-pinotage en die Sir Percy 2004, ‘n Bordeaux-versnit. Veral daai pinotage het my laat wens dat my glas tog net nie leeg raak nie. Nes ek teen hierdie tyd gevoel het die pad moet tog net nie korter raak met Nissan se veelsydige sportnutsvoertuig nie.

 

Die dag se bederf het ‘n goue randjie gekry toe ek die nag op Webersburg (021-881-3636) oorgebly het. Hierdie pragtige boetiek-wynplaas aan die voet van die Helderberge se netjies gerestoureerde geboue bied lafenis vir die siel, in meer as een opsig.

 

Regs: Die Helderberg-kom vanaf Webersburg gesien. Verblyf op hierdie geskiedkundige wynplaas is 'n ervaring in weelde en gerief.

 

Ek en Nissan se X-Trail het die volgende oggend na brekvis rustig terug gery huis toe. Nee, ek lieg, dit was ‘n onrustige terugrit. Mens ry nie sommer weg van sulke wyne, sulke kos en sulke natuurskoon sonder ‘n gevoel van spyt nie!

 

Wynwiele:

 

My metaalmetgesel op hierdie besoek was die Nissan X-Trail wat toegerus is met ‘n 2,5 liter-petrolenjin wat ‘n stewige en seepgladde 125 kW en ‘n stewiger 226 N.m lewer. En sorgvrye en moeitelose outomatiese ratwisseling het verder gesorg vir rygenot duisend.

 

Hierdie es-joe-wie het my so byna-byna van besluit laat verander. Laat ek verduidelik. Ek en vroulief het besluit noudat ons ouer word, gaan ons afskaal en vir “gerieflik, maar meer kompak” gaan. Kleiner huis en kleiner karre, byvoorbeeld.

 

Maar dit gaan ook oor die sogenaamde koolstofspoor wat ons laat. Sien, ons het besluit om ons deel by te dra om aardverhitting teen te werk. Met ander woorde, minder besoedeling van die atmosfeer. En so het ons afgeskaal van ‘n groot motor na ‘n kleiner een vir vroulief en van ‘n groot es-joe-wie na iets kleiners vir my.

 

Na ‘n paar dae agter die stuur van die X-Trail het ek egter ernstig begin twyfel oor my besluit. Heng, dis darem maar ‘n lekker voertuig, het my hart my begin vertel. Nee man, bly by jou oorspronklike besluit en doen iets vir die aardbol en die nageslagte, het my verstand teëgestribbel.

 

Die debat duur voort! En die X-Trail is steeds op my kortlys!

 

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram