‘n Paar nuwe wyne vir lente- en somergenot!

’n Hele paar nuwe wyne het die afgelope maand hul verskyning gemaak om wynliefhebbers se keuse vir lente en somer verder te vergroot. Dit sluit rooi, wit, rosé en selfs gefortifiseerde wyne in.

Laat ons afskop met ’n sexy wyn! Steenberg se vrolike Ruby Rosé (foto bo) is nommerpas vir sowel lente- as somergenot. Hierdie verfrissend droë Rosé is ’n lewenslustige versnit van syrah (69%) en cinsault (31%) wat verlei met sweempies waatlemoensorbet, toffie-appel, rooi licorice-lekkers en soet, ryp spanspek. Dit gee ’n mondvol sappige framboos, wilde aarbeie en tikkies spesery. Hierdie droë, vrugtige Rosé is lig en aanloklik met hope romeringe diepte wat op die tong talm. Dit is die ideale lafenis vir pieknieks, ligte middagetes en skemerkelkies.

Die Steenberg Ruby Rosé 2018 is by die kelder teen R93 per botte beskikbaarl, asook landwyd by wynwinkels.

Intussen het Stellenbosch Hills die jongste oesjaarwyne met dieselfde naam bekend gestel. Die reeks bestaan uit ’n “magnificent seven” en sluit vyf wyne van die 2016-oesjaar in.

Die Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc 2018 is ’n volronde en vars wyn met kenmerkende lemmetjieskil-suur. Daar is ’n oorvloed groenvy-, appelliefie- en soet spanspek-geure met ’n skeutjie koejawel en aspersie.

Die Stellenbosch Hills Chenin Blanc 2018 is ’n goed gebalanseerde wyn met ’n verfrissende, vrugtige profiel en vars suur. Grenadella en steenvrugte kom in die wyn na vore, tesame met groen appels en lietsjie, met ’n skeutjie suurlemoenskil.

Die Stellenbosch Hills Bushvine Pinotage 2016 is ’n volronde wyn met ’n komplekse geur-kombinasie van braambessies, pruime en moerbeie. Daar is skeutjies vanielje-eikehout, piesang, donker sjokolade en sigaarboks, terwyl fluweelsagte tanniene goed op die tong balanseer en ‘n talmende nasmaak lewer.

Die Stellenbosch Hills Cabernet Sauvignon 2016 vertoon ryp, swart kersie-, pruim- en framboos-karakters met subtiele Franse eikehoutspeserye, vanielje en sigaarboks. Dis volrond, sappig en kompleks, maar baie elegant met ’n lang, talmende nasmaak.

Die Stellenbosch Hills Merlot 2016 betower met sy diep robynrooi kleur. Die wyn is volrond en vertoon goeie tannien-integrasie. Dit ontplof met rooi en swart kersies, moerbei en geure van ryp pruime wat Franse eikehoutspeserye en ’n skeutjie naeltjies kombineer. Dit verseker ’n gebalanseerde en sysagte gevoel op die tong, met ’n talmende nasmaak.

Stellenbosch Hills se Shiraz 2016 vertoon ’n klassieke rooivrug-karakter met eikehoutspeserye en skeutjies swartpeper. Die wyn bied framboos- en moerbei-vrugtigheid, skeutjies viooltjies, naeltjies en peper-speserye. ’n Sterk tannien-struktuur bied ’n talmende nasmaak.

Die reeks word afgesluit met die gewilde Stellenbosch Hills Muscat de Hambourg 2016 met sy geurontploffing van spookasem, gekookte lekkers, roosblare en viooltjies.

Delheim het die sluier gelig op sy jongste Chenin Blanc Wild Ferment! Die vierde oesjaar van hierdie wyn is die perfekte toonbeeld van geur- en aroma-intensiteit.

Die Chenin Blanc Wild Ferment 2017 het ’n pragtige geel-strooikleur met ’n sagte groen skynsel. Sy sensoriese karakter herinner aan gort, appelkose en perskes, met ’n goed-gebalanseerde suur- en eikehout-geur. Sitrus kom na vore en talm op die tong.

Buiten die spontane gisting met inheemse gis, word die wyn in Franse eikehoutvate van 500 liter verouder om die geurdiepte in smaak te beklemtoon.

Die Delheim Chenin Blanc Wild Ferment 2017 is by die kelder en uitgesoekte handelaars landwyd beskikbaar teen sowat R125 per bottel.

Die 2014-oesjaar van Constantia Glen se keldertrots-rooiwyn, die Constantia Glen FIVE 2014, spog met 92 punte uit ’n moontlike 100 deur sowel Neal Martin as Tim Atkin MW, albei hoogaangeskrewe internasionale kenners van Suid-Afrikaanse wyne. Nog ‘n Britse Wynmeester, Derek Smedley, het hierdie Bordeaux-versnit geprys met ‘n merkwaardige 95 punte.

Die 2014-oesjaarwyn met sy gekonsentreerde aromas van ryp swartbessie, bosbessie en sappige pruime is ’n versnit van 28% cabernet sauvignon, 25% cabernet franc, 21% merlot, 14% albec en 12% petit verdot wat vir 18 maande in 75% nuwe- en 25% tweedevul- Franse eikehoutvate verouder is.

Die Constantia Glen FIVE 2014 is direk by die kelder en boetiekwynwinkels beskikbaar. Dit verkoop op die landgoed teen R390 per bottel.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>